‘Transitorowers’ met beskadigde kontant in voertuig betrap

Die versteekte kontant. (Foto: Verskaf)

’n Groep vermeende transitorowers is Dinsdag op die N1-snelweg buite Sasolburg vasgetrek nadat die polisie op ’n aansienlike bedrag kontant wat in hul motor se deurpanele versteek was, afgekom het.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, het ʼn groep gewapende mans Maandag op ʼn transitovoertuig in die Ngaleni-area naby Port St. Johns in die Oos-Kaap toegeslaan waarna hulle met ’n onbevestigde bedrag geld op die vlug geslaan het.

Wetstoepassingsowerhede het onmiddellik hul aksieplan geïmplementeer wat die mobilisering van lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die Valke, SAPD-speurders en ander gespesialiseerde eenhede behels.

Dié gedugte span kon die verdagtes se gehuurde motor buite Sasolburg voorkeer. Volgens Naidoo kon die vier insittendes in die motor nie ’n verduideliking gee waarom daar geld in hul voertuig versteek was nie.

Naidoo sê dat van die geldnote waarop beslag gelê is, beskadig was, vermoedelik deur ’n ontploffing tydens die transitorooftog om toegang tot die geld te kry.

Daar word vermoed dat die einste groep mans ook vroeër die dag betrokke was by ’n gepoogde transitorooftog in Mount Frere in die Oos-Kaap. Die groep kon egter nie in dié geval daarin slaag om hul hande op enige kontant te lê nie, maar het met veiligheidsbeamptes op die toneel se vuurwapens op die vlug geslaan.

Genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes. “Sedert die implementering van die 72-uur-aktiveringsplan sien ons groot sukses in die inhegtenisneming van oortreders van ernstige misdade,” het Sitole gesê.

“Die doel van hierdie plan is om binne die vasgestelde tydperk die maksimum hoeveelheid hulpbronne te mobiliseer om te verseker dat alle aspekte van die ondersoek deeglik behartig word en dat geen inligting en bewyse wat kan help om misdadigers te identifiseer verlore gaan nie.”

Naidoo sê nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

Môre ontsnap hulle weer of borg word betaal en hulle is op straat………………….

Tammy ·

Welgedaan aan al die betrokkenes wat hierdie rowers uitgesnuffel het. Hoop nou net die gepaste straf sal opgele word. Haal hulle asseblief uit ons sisteem van midaad. Groot asseblief..dit sal die prentjie mooi afrond!!!!

Di ·

Hierdie land van ons is in duisternis gedompel. Al wat ‘n krimineel is het hierna toe gekom want dis mos nou die land van Melk en heuning vandat die grense oopgemaak is. Als te danke aan die betrokke mense wat hierdie besluit geneem het nou moet die burgers van hierdie land die gevolge dra!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.