‘Transitorowers’ se planne gefnuik

Foto: SAPD

Skote het die afgelope naweek geklap toe polisiebeamptes in Witrivier in Mpumalanga en opsporingsbeamptes van Netstar ʼn groep gewapende rowers wat vermoedelik op pad was om ʼn transitorooftog uit te voer in hul spore gestuit het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê Netstar-beamptes het Saterdag omstreeks 16:15 inligting ontvang oor ʼn beweerde gesteelde voertuig wat in die Masoyi-gebied naby Hazyview geparkeer was. Die Netstar-beamptes het die Witrivier-blitspatrollie ontbied vir versterking voordat hulle hulle na die toneel gehaas het.

Volgens Hlathi het die span die voertuig, ʼn silwer Land Rover wat in Gauteng as gesteel aangemeld is, genader toe ʼn “gewaagde bende” van ongeveer 20 gewapende verdagtes op hulle losgebrand het. Een van die Netstar-beamptes en een verdagte is in die skietery gewond.

Foto: SAPD

“Toe die stof gaan lê, het die res van die verdagtes, wat blou oorpakke aangehad het om hulle as kontrakwerkers voor te doen, reeds in verskillende rigtings die bosse in gevlug. Die polisie het toe ook ʼn Toyota Quantum-bussie gevind, asook ʼn wit BMW X4 wat vermoedelik ook in Gauteng gesteel is,” het hy gesê.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn groot hoeveelheid plofstof, handskoene, ʼn koeëlvaste baadjie, ʼn vuurwapen en ander items wat dikwels gebruik word in die uitvoer van misdaad.

“Volgens die polisie se voorlopige ondersoek was die verdagtes op pad om ʼn transitorooftog uit te voer, toe hulle planne in die wiele gery is deur die polisie en Netstar-beamptes wat opgedaag het. Die polisie volg tans inligting op wat kan lei tot die opsporing van die verdagtes wat van die toneel gevlug het,” het Hlathi gesê.

Mense met meer inligting word versoek om kol. William Mokonyama van die Valke in Mpumalanga by 082 565 7099 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gestremde ·

Die tronke te lekker en te maklik om borg te kry. Daar is geen afskrikmiddel om misdadigers te bekamp nie. Wette in die land moet hersien word en die “sogenaamde menseregte” van gevangenes moet bekamp word tot basiese behoeftes en niks meer nie. Dit wil vir my voorkom of elke misdadiger ‘n “tweede kans” kry om misdaad te pleeg nadat hulle skuldige bevind word aan ernstige misdade en na ‘n week of wat weer op borg is. Kom nou Mnr. Cele…wat gaan jy omtrent die situasie doen?

marous ·

Die verrotting het so ver gevorder dat die regstelsel geen effek het nie. Die land is reeds by die punt waar misdaad oorheers. Die gemeeskap neem reg in eie hande want die staat het nie die bevoegdheid om voorkomend op te tree nie. Krygswet gaan teen die land se eie mense ingestel word , en die gewone mense gaan vernietig word. Hou maar dop , dit gaan gebeur , binnekort …..

Janosh ·

Ek wonder hoekom die verdagtes dit bykans altyd regkry om te ontsnap. Hoekom kan daar nie van hommeltuig-tegnologie gebruik gemaak word om hulle aan te keer nie. Hulle hoort mos uit die lug baie maklik opgespoor te kan word.

Agter ·

Ja daar kan. Daar is top tegnologie om misdaad amper te stop as daar net die wilskrag was, maar in hierdie samelewing waar menseregtevegters vir die regte van misdadigers veg, en die regte van die gewone publiek afbreek, en waar mense net probleme en nie oplossings sien nie, is dit moeilik om toe te pas. Privaatsekuriteitsmaatskappye moet almeer hierdie tegnologie inspan.

Tanzie ·

Baie goeie nuus!! Gewoonlik lees mens eers na die rooftog dat iemand dood is of gewond is. Hierdie keer was die polisie en Netstar een te vinnig gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.