Transitorowers skiet polisievrou dood

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn Adjudant-offisier verbonde aan die Valke is Donderdagoggend in ʼn transitorooftog naby Mahikeng in Noordwes doodgeskiet.

Brig. Vishnu Naidoo, die nasionale polisiehoof se woordvoerder, het gesê ʼn groep gewapende aanvallers in ʼn Mercedes-Benz en ʼn Ford Ranger het op die pad tussen Lichtenburg en Mahikeng toegeslaan. “Die verdagtes het springstof gebruik om toegang tot die kontant te kry, maar voordat hulle die geld kon verwyder, het lede van die Valke en die nasionale intervensie-eenheid gereageer,” het hy gesê.

Die verdagtes het in die twee voertuie – maar sonder enige van die geld – gevlug. ʼn Jaagtog in die rigting van die Mahikeng-middestad het gevolg en die polisie het die verdagtes in die Mercedes-Benz uit die oog verloor.

Die polisie het op die spoor van die Ford Ranger gebly en ʼn skietery het in die middestad tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek.

“Die lid van die Valke is dood nadat sy in die kop geskiet is. Drie burgerlikes is glo ook gewond,” het Naidoo gesê.

Nie een van die verdagtes is in hegtenis geneem nie.

Naidoo het gesê die 44-jarige polisielid se naam sal eers bekend gemaak word wanneer al haar naaste familielede van haar dood in kennis gestel is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het sy medelye met die vrou se familie betuig en die provinsiale polisie gevra om dadelik die 72‑uur-plan in werking te stel om haar moordenaars te jag.

“Ek het opdrag gegee dat verskeie polisie-eenhede landwyd op die uitkyk vir die verdagtes moet wees,” het Sitole gesê.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by die Stop Misdaadnommer by 08600 1011 aan te meld, of op die polisie se MySAPS-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Santjie ·

Ek is baie jammer om te hoor van die verlies en innige simpatie aan haar naasbestaandes. Maar waarom nie met ELKE misdaad die “72 uur” plan in werking stel nie?

lollapot ·

Bitter hartseer dat NOG n Polisie beampte deur kriminele, koelbloedig vermoor is! My Hart is stukkend Vir haar gesin, Sy was iemand se kind! Rus in vrede nooi . . . SALUUT!

Miskruier ·

En Cele voel net polisie en weermag moet vuurwapens hê! Geen een van die misdadigers gaan wapens inhandig nie.

Pieter J ·

Hierdie rowers skiet met kragtige gewere terwyl die arme po,isie dalk net oor handwapens beskik.

Eugene ·

My hart bloei vir die vrou wat vermoor is en die swak polisiëring wat die verdagtes laat ontsnap het

Sarel ·

Dit is diecmense wat bewapen word terwyl die ” ordinary citizens” ontwapen moet word. Cele moet sntwoord vir elke Polissie lid wat dood geskiet word.

FM ·

Daar is geen sin daarin om te simpatiseer nie. Dit kan nie die persoon lewend maak of die hartseer wegvat nie. Gee opdrag dat die Valke, SAPS, ens. eerste skiet om dood te skiet. Dan alleen sal die borde verhang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.