Transitovoertuig opgeblaas; verdagtes gesoek

Verdagtes word gesoek nadat ‘n transitovoertuig Woensdag in Hammanskraal opgeblaas en geplunder is. (Foto: x / Yusuf Ambramjee)

ʼn Groot polisiesoektog is tans onderweg om ’n groep verdagtes vas te trek wat Woensdag by ’n transitorooftog naby die Mandela-sportkompleks in Hammanskraal betrokke was.

Luidens die voorlopige polisieverslag het die bestuurder van die transitovoertuig en sy twee kollegas van die N1-snelweg af in Hammanstraat gery toe ’n groep gewapende verdagtes hulle onderskep en met ’n silwerkleurige Mercedes‑Benz C180 in die transitovoertuig vasgeploeg het.

“Die verdagtes het na bewering geweerskote op die wagte afgevuur, en die transitovoertuig opgeblaas voordat hulle met ʼn onbekende bedrag geld gevlug het. Die verdagtes is glo in ʼn wit Ford Ranger daar weg,” het lt.kol. Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.

Dit is nie bekend of enigeen in die voorval beseer is nie.

“Gemeenskapslede word gewaarsku om nie aan die verkeerde kant van die reg te beland deur hulself aan rondlêgeld te help of met ’n aktiewe misdaadtoneel te peuter nie.”

Die polisie versoek enigeen met inligting oor die voorval om na vore te kom.

Dié transitorooftog volg skaars twee weke nadat die polisie ’n beplande transitorooftog in Dobsonville gefnuik en beslag op drie voertuie en verskeie vuurwapens – insluitend ’n AK47 – gelê het. Twee verdagtes is gedurende dié operasie deur polisiebeamptes doodgeskiet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ore ek glo nie so nie want dan maak dit dinge moeilik vir Cele se bende wat die scraps optel wat die gemeenskap nie mag vat nie.

Casper ·

Wys net weereens hoe chaoties wet en orde in die land is maar hoedman is erg bekommerd oor hofsake.Plaas dat hy sy werk doen,oops ek het vergeet,hy is onbevoeg.

H.A. ·

Let net op die duur voertuie wat die bendes elke keer gebruik. Tekort aan geld is daar nie.

SjN ·

Was Cele en Lamola al op die toneel of is hofsake waar wit mense betrokke is meer belangrik?

Net-my-opinie ·

Net een vraag: Waar kry hulle die plofstof en outomatiese aanvalsgewere?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.