Transitowag tydens rooftog doodgeskiet

G4S-geldwa (Argieffoto)

’n G4S-veiligheidswag is Maandag tydens ’n rooftog by ’n supermark in Heidedal in Bloemfontein in die Vrystaat doodgeskiet.

Veiligheidswagte het omstreeks 11:45 geld by ’n supermark opgelaai toe hulle deur ’n groep rowers oorval is.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het gesê een van die veiligheidswagte is van sy vuurwapen beroof waarna hy geskiet en gewond is. Die 29-jarige man is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Die verdagtes het intussen met ’n onbekende bedrag kontant op die vlug geslaan. “Daar is op die misdaadtoneel op ’n Nissan NP300-bakkie beslag gelê wat deur die rowers gebruik is. Die bakkie is vroeër tydens ’n kaping in Bloemfontein gesteel.”

Die verdagtes het volgens ooggetuies in ’n wit Ford Ranger-bakkie van die toneel gevlug.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die polisie in die Vrystaat opdrag gegee om ’n 72-uur-aksieplan in werking te stel om die verdagtes vas te trek.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.