TransNamib-pensioenarisse moet self opdok vir medies

Arend en Maria Keulder. (Foto: Verskaf)

Afgetrede personeel van Namibië se pad- en spoordiensoperateur, TransNamib, sit met ʼn yslike dilemma op hande: Hulle sal voortaan sélf hul bydraes tot die mediese fonds moet betaal, óf hul lidmaatskap kanselleer.

Dít volg nadat TransNamib afgetrede personeel in kennis gestel het dat die maatskappy glo finansiële probleme ondervind en nog net tot die einde van die jaar bydraes tot pensioenarisse se mediese fondse sal maak. Die voordeel was deel van pensioenarisse se aftreepakkette.

Die Nambiese media-instansie New Era Live berig dat 387 voormalige werknemers deur die besluit geraak word.

Arend en Maria Keulder is een van die egpare wat hierdeur geraak word.

Arend, nou 82, het voor sy aftrede as ʼn passer vir die maatskappy gewerk en was vir 40 jaar in die maatskappy se diens.

Die egpaar het 15 jaar gelede na Suid-Afrika verhuis en woon nou by hul dogter, Melanie van Aswegen, op Kimberley in die Noord-Kaap. Die bejaardes sukkel albei met hul gesondheid.

“Ek sit met my hande in my hare. Dit is baie stresvol,” het Van Aswegen aan Maroela Media gesê.

Maria ondergaan al geruime tyd kankerbehandeling, terwyl Arend aan dimensie ly. Hy sukkel egter al ʼn paar jaar nadat hy vroeër ʼn beroerte gehad het. Die egpaar het albei ook hartprobleme. Hulle is dus uiters afhanklik van hul mediese fonds, waarvan die maatskappy 50% tot die lidmaatskapfooi bygedra het.

Van Aswegen sê sy wil haar ouers graag versorg en ondersteun, maar het geen idee hoe sy hul mediese onkoste gaan dek nie. Die idee dat haar ouers voortaan na ʼn staatshospitaal sal moet gaan, laat haar – en hulle – yskoud, aangesien die toestande by meeste staatshospitale in die land uiters swak is.

Van Aswegen se man doen boonop ná ure reeds bykomende afleweringswerk sodat daar genoeg geld is om voldoende na Arend en Maria om te sien.

“My hart is stukkend. Hul mediese onkoste was verlede jaar ver oor ʼn miljoen rand. Boonop gaan geen ander mediese fonds hulle nou aanvaar nie.”

Van Aswegen het ook min tyd om alternatiewe reëlings te probeer tref aangesien sy TransNamib se brief aan haar pa eers verlede week in die pos ontvang het. Dit is al op 30 Junie vanjaar uitgereik.

“Ons weet nie wat ons gaan doen nie. Ek vertrou egter op die Here.”

Maatskappy is finansiële nood

Luidens die berig in New Era Live het Abigail Raubenheimer, TransNamib se woordvoerder, gesê die bydrae “raak te veel vir die maatskappy om te dra”. TransNamib bestee glo jaarliks 24 miljoen Namibiese dollar (R24 miljoen) aan mediesefondsbydraes vir afgetrede personeel.

“Ons moet steeds bydraes aan huidige personeel maak,” het sy aan New Era Live gesê.

In ʼn kort brief wat Maroela Media onder oë gehad het, verwittig TransNamib sy voormalige werknemers dat hul “na-aftrede mediese voordeel” vanaf 1 Januarie opgeskort word.

“Vir die afgelope paar jaar het TransNamib Holdings Limited ʼn beduidende afname in verkeersvolumes ondervind, wat in finansiële druk ontaard het,” lui die brief.

“Julle word daarom aangeraai om alternatiewe mediese versekering op jul eie onkoste aan te gaan voor die bovermelde spertyd. Ons vra om verskoning vir enige ongerief,” word die brief afgesluit.

Maroela Media het verskeie navrae in dié verband aan TransNamib en Raubenheimer gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

Vrae oor ware stand van sake

Intussen het vrae onstaan oor die ware stand van TransNamib se finansiële sake.

Kort nadat TransNamib sy besluit ten opsigte van die mediese fondse aangekondig het en ook versuim het om ander finansiële verpligtinge na te kom, het dit aan die lig gekom dat die maatskappy agt nuwe voertuie aangekoop het.

Luidens ʼn berig in The Namibian op 15 Augustus het Raubenheimer die aankope bevestig, maar aangevoer die bestelling is nege maande vroeër al geplaas.

Volgens Raubenheimer speel die maatskappy nog heeltyd oop kaarte ten opsigte van sy finansiële verknorsing asook ʼn tekort aan toerusting. Om die kontantvloei-uitdaging op te los, moet die maatskappy sy inkomste verhoog, het sy verder aan The Namibian gesê.

“Gegewe TransNamib se deursigtigheid rakende die maatskappy se toerustinguitdagings behoort dit duidelik te wees dat belegging in toerusting lankal agterstallig is.”

Railways Africa het verlede maand berig dat TransNamib sy vloot van tenkwaens wat suur vervoer, beduidend wil uitbrei.

Die Namibiese regering het ook R230 miljoen aan TransNamib se bedrywighede vir die 2023-’24-boekjaar toegeken, aldus nóg ʼn berig deur Railways Africa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ruby ·

Sies TransNamib, dit is ‘n skande dat julle hierdie ou mense nou in hul elfde uur aan hul eie genade oorlaat.

Die bestuursvlak se salarisse is natuurlik hemel hoog.

As dit my ouers was sou ek hof toe.

trotsNAMSA ·

Alle Staatsdiens beamptes in SA “verloor” hul mediese fonds. As jy werk betaal die Staat ‘n deel en jy as lid die res. Tree jy af, kan jy aanbly by jou huidige mediese skema en dan kom alles uit jou eie sak.
Na 40 jaar betaal ek nou my eie mediese gelde elke maand, soos die SA Regering dit verwag van my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.