Transnet-brandstofdief swaar gestraf

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn Brandstofdief wat in 2020 met een van Transnet se pypleidings gepeuter het, moes Vrydag boet met ʼn swaar tronkstraf.

Dié dief se makkers het egter lig daarvan afgekom, maar uitsetting staar hulle nou in die gesig.

Kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, sê Norman Tsvito (44), Cliff Mtantho (46), Beckham Mtando (28) en George Katumba (56) het Vrydag in die Sasolburg-landdroshof verskyn.

Dit volg nadat hulle in Augustus 2020 in die vroeë oggendure betrap is terwyl hulle brandstof uit ʼn Transnet-pypleiding gesteel het.

“Transnet het om 01:30 ʼn daling in sy pypleiding se drukking by Taaibos-plaas in Zamdela aan die buitewyke van Sasolburg opgemerk. Die verskynsel is by lede van die Valke se georganiseerde misdaadspan aangemeld,” sê Singo.

“Lede van die Valke is na die toneel waar die beskuldigdes besig was om brandstof uit die pypleiding se klep in ʼn vragmotor te tap.”

Die mans is in hegtenis geneem en het sedertdien verskeie kere in die hof verskyn.

Tsvito, wat die baasbrein agter die diefstalpoging is, is skuldig bevind op aanklagte van die peuter met noodsaaklike infrastruktuur en diefstal van ruolie.

Hy is 15 jaar tronkstraf vir albei aanklagte opgelê, maar dit sal gelyklopend uitgedien word.

Mtantho, Mtando en Katumba is ʼn boete van R1 000 elk opgelê of 30 dae tronkstraf. Dié drie sal na verwagting ook uitgeset word.

Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, het die skuldigbevindings verwelkom en meen dit dien as ʼn goeie afskrikmiddel vir diegene wat Transnet se pypleidings wil teiken.

“Die vonnisoplegging stuur ʼn sterk boodskap dat die toegewyde span van wetstoepassingsbeamptes beslis oortreders wat met die infrastruktuur peuter of saamsweer om dit te doen, sal vastrek, aankla en vervolg,” sê sy.

“Die suksesvolle skuldigbevindings is ʼn bewys dat al die rolspelers daaraan toegewy is om hierdie vlaag van brandstofdiefstal hok te slaan.”

Volgens Phillips is altesame 155 verdagtes al die afgelope tyd in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by brandstofdiefstal aan die pypleiding. Slegs ses van hulle is al skuldig bevind.

Transnet Pipelines is die afgelope tyd lamgelê met brandstofdiefstalgevalle landwyd.

Die jongste voorval aan ʼn pypleiding buite Harrismith in die Vrystaat het daartoe gelei dat duisende liters brandstof in ʼn nabygeleë rivier gestort is.

Noodreaksiespanne moes inspring om die storting in bedwang te bring en die rivier word tans gerehabiliteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieterweskaap ·

Tsvito se trawante “sal waarskynlik uitgeset word”

Uitsetting uit wat uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.