Transnet-direkteur kry bloedneus in hof

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag Seth Radebe, voormalige Transnet-direkteur, se aansoek om sy verwydering uit sy pos deur die minister van openbare ondernemings te betwis, van die hand gewys.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die hofuitspraak verwelkom en gesê Radebe se aansoek voor die hof was “kwelsugtig”.

Regter Hans Fabricius het gesê hy het opgemerk daar was ʼn gebrek aan beslissende optrede deur die Transnet-raad teen werknemers wat by korrupsie betrek is, veral ten opsigte van die maatskappy se tender vir 1 064 nuwe lokomotiewe, ten spyte van genoegsame bewyse om wel op te tree.

Die tender was gehul in bewerings dat die Gupta-familie se Tegeta Exploration aansienlike finansiële voordeel daaruit getrek het en het die onderwerp geword van ʼn verslag deur Werksmans-prokureurs.

Gordhan, wat in Mei ʼn nuwe Transnet-raad onder leiding van Popo Molefe aangestel het, het koppe gestamp met die vorige raad omdat hulle nie vir Siyabonga Gama, die uitvoerende hoof, geskors het oor die bewerings nie.

Gordhan het in April vir Radebe in die pad gesteek nadat die raad versuim het om teen Gama en Garry Pita, Transnet se finansiële hoof, op te tree.

Radebe het in sy hofaansoek aangevoer Gordhan se besluit om hom van sy amp te onthef was ʼn rassistiese besluit.

Fabricius het nie hiermee saamgestem nie en gesê: “Ek kan nie bevind dat die minister se besluit ras-gemotiveerd was of as rassediskriminasie geag kan word nie, gesien subjektief of objektief. Na my mening het die minister die relevante feite in ag geneem en ʼn rasionele besluit op grond daarvan geneem. Hy het die benarde toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie in gedagte gehou en die rol wat Transnet daarin gespeel het.”

Die regter het gesê Gordhan het sy redes om die Transnet-raad te vervang deeglik verduidelik en daar was geen rede om sy karakter te beswadder “soos ongelukkig in hierdie verrigtinge gedoen is, waar sy akademiese kwalifikasies, bevoegdheid en begrip van sy grondwetlike verpligtinge in twyfel getrek is” nie.

Hy het Gordhan se argument aanvaar dat die raad nie sy verpligtinge voldoende nagekom het nie.

“Die raad het geen besluite geneem om onreëlmatige kontrakte ter syde te laat stel nie, of ten minste om toekomstige betalings aan die vier entiteite betrokke te staak nie. Daar was algehele gebrek om vinnig en beslissend teen dwalende werknemers op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cornelius du Rand ·

Die rassistiese advokaat se raskaart werk toe nie voor n bevoegde regter nie

Lena Jonk ·

Gordon moes gestaan het vir staatspresident, sterk en slim man, doen altyd sy bes om SA te probeer help as in finasieele posisie is. Gaan vir hulle Gordon, maak skoon.

Monica ·

Hoop die rassistiese arrogante adv Dali Mpofu vra omverskoning…. maar ja, verwag nie enigiets van hom nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.