Transnet ‘episentrum’ van staatskaping

Die sekretaris van die kommissie, prof. Itumeleng Mosala, oorhandig die verslag aan die direkteur-generaal in die presidensie, Phindile Baleni (Foto: Presidensie/Twitter)

Die president se kantoor het Dinsdag die tweede deel van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, korrupsie en bedrog se verslag ontvang. Dié deel van die verslag handel oor korrupsie by Transnet en Denel en bevind onder meer dat Transnet die episentrum van staatskaping was.

Luidens die verslag het 72% van kontrakte wat met staatskaping verband hou, by Transnet ontstaan. Daar word ook aanbeveel dat die voormalige hoofde van Transnet, Brian Molefe en Siyabonga Gama, sowel as die voormalige finansiële beampte Anoj Singh, krimineel vervolg word vir klagtes wat korrupsie, rampokkery en nalatigheid insluit.

In die Transnet-verslag beveel die kommissie onder andere ook aan dat die voormalige minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, ondersoek word en moontlik vervolg word vir betalings wat hy glo by die Guptas se woning in Saxonwold ontvang het.

Prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, het die twee dokumente oor Transnet (506 bladsye) en Denel (140 bladsye) aan Phindile Baleni, direkteur-generaal in die presidensie, oorhandig.

Voorsitter van die kommissie, Raymond Zondo, het vroeër die eerste deel van die verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig (Foto: Presidensie/Twitter)

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het die eerste gedeelte van die verslag vroeër vandeesmaand aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig. Daarin word aanbeveel dat strafregtelike aanklagte teen sommige persone wat in die verslag genoem word, aanhangig gemaak word. Verskeie ANC-lede word ook in die verslag by wangedrag betrek.

Soos vereis deur ʼn uitspraak in die Gautengse hooggeregshof op 28 Desember 2021, sal die president die kommissie se verslag teen 30 Junie 2022 by die parlement indien tesame met ʼn aanduiding van sy planne rondom die aanbevelings van die kommissie.

“Die oorhandiging van die tweede deel van die verslag is ʼn beduidende stap in die werk wat ons moet doen om korrupsie uit te roei,” het Ramaphosa gesê. “Tydens die afgelope vier jaar het die kommissie ʼn ontstellende prentjie geskets van die omvang en skade wat staatskaping aangerig het. Ons moet ons nou op die kommissie se aanbevelings toespits en die nodige stappe doen om seker te maak dat ons nooit weer dié aanval op staatshulpbronne beleef nie.”

Die derde en finale deel van die verslag sal na verwagting op 28 Februarie aan Ramaphosa oorhandig word.

Transnet-verslag

Die kommissie bevind in die verslag dat staatskaping vir amper tien jaar – tussen 2009 en 2018 – by Transnet plaasgevind het, hoofsaaklik by wyse van rampokkery deur die Gupta-familie en die ondernemings wat hulle besit het, sowel as diegene wat met die familie se ondernemings belyn was.

Van die onreëlmatighede by Transnet in die bogenoemde tydperk is onder andere die aankoop van 1 064 lokomotiewe teen R54,4 miljard rand tussen 2013 en 2014. McKinsey, ʼn Amerikaanse konsultasie-agentskap met sterk Gupta-bande, het Transnet met betrekking tot dié aankope adviseer.

Klik hier om die volledige verslag te lees

Denel-verslag

Die Denel-verslag dek onder andere die Hoefyster-kontrak; die Hulls-kontrak; DLS Single Source-kontrak; die Guptas se poging om Denel te kaap deur VR Laser en groot bedrae kontant wat aan geskorste hoofde uitbetaal is.

Die kommissie beveel aan dat wetstoepassers die onderskeie kontrakte ondersoek en bepaal of dit die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) oortree. Wetstoepassers moet ook bepaal watter lede van die raad van direkteure vervolg moet word nadat drie hoofde geskors is sonder dat daar ingestem is tot ʼn versnelde proses om die bewerings teen hulle te ondersoek en daar ingestem is om groot bedrae kontant aan hulle uit te betaal in ʼn skikkingsooreenkoms.

Klik hier om die volledige verslag te lees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Kom julle dit nou eers na 27 jaar agter ???? Enige persoon met een breinsel kon dit al lankal raakgesien het.

Jannie

Almal weet hier gaan absoluut niks van kom nie. Dit was net heuning om die mond

Herman

Ek kan nie glo die lot pose met n korupsie verslag asof dit n toekenning is nie. Korup verby.

Jack

Ja ek sou my kop in skaamte laat sak het as ek die verslag moes ontvang.Dit is GEEN toekening vir prestasie nie.Maar ons weet ook dat dit soos die eerste verslag net gaan stof vang in ‘n hoek totdat iemand dit gebruik vir ‘n deurstop of iets dergliks.

Sarel

Sal interresant wees om te sien of enige persoon vervolg gaan word. Wat van SAA..word blykbaar weereens uitgesonder..