Transnet het vakbond mislei, sê Untu

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu (Foto: Untu)

Die United National Transport Union (Untu) het Transnet daarvan beskuldig dat hy die vakbond mislei het tydens onlangse loononderhandelings en oorweeg nou om die ooreenkoms te kanselleer.

“Dit is met groot spyt dat Untu sy lede by Transnet in kennis moet stel dat die vakbond onttrek het uit loononderhandelings met die werkgewer ná ʼn algehele vertrouensbreuk,” het Steve Harris, algemene sekretaris van die vakbond, gesê.

Transnet het skriftelik aan Untu, die meerderheidsvakbond, bevestig dat hy op 29 Desember 2017 finansiële bystand ter waarde van R222 miljoen toegestaan het aan SA Express, te midde van loononderhandelings met vakbonde by die Transnet-onderhandelingsraad.

Transnet het deur die loononderhandelingsproses volgehou en finansiële state ter stawing aangebied dat hy kontantvloeiprobleme ervaar ná die staatsbeheerde onderneming teen die einde van November 2017 deur die internasionale kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s tot rommelstatus afgegradeer is.

“Transnet het tydens die onderhandelingsproses aangevoer ʼn multitermyn-ooreenkoms is nodig om beleggers te oortuig om in die organisasie te belê. As die vakbonde nie sou instem tot ʼn multitermyn-ooreenkoms nie, sou Transnet nie ʼn geen-afleggingsklousule insluit om die werk van ons meer weerlose lede te beskerm nie,” het Harris verduidelik.

ʼn Ouditproses het egter aan die lig gebring dat Transnet se raad van direkteure, onder voorsitter Linda Mabaso (wat vandeesweek bedank het), finansiële bystand van R222 miljoen aan SA Express toegestaan het kragtens artikel 45(5) (a) van die Maatskappywet.

Mark Gregg-Macdonald, waarnemende hoof finansiële beampte van Transnet, het skriftelik aan Harris bevestig die organisasie het ʼn korttermyn kapitale lening aan SA Express bewillig op versoek en goedkeuring van die voormalige minister van openbare ondernemings, Lynn Brown.

“Transnet verduidelik dat SA Express sy verskaffers voor 31 Desember 2017 moes betaal om gedwonge likwidasie te vermy wat tot die verlies van 1 200 poste sou lei en ʼn negatiewe impak sou hê op die kredietvooruitsig van alle staatsbeheerde ondernemings deur kredietgraderingsagentskappe. Dit is egter nie van belang vir Untu nie. Ons het te goeder trou met Transnet onderhandel. Ons het ʼn multitermyn-ooreenkoms onderteken vir ʼn 7.1%-verhoging vir die volgende drie jaar met ʼn mandaat van die meerderheid van ons lede gebaseer op die finansiële state en vooruitskattings wat Transnet vir ons aangebied het. Nou is dit duidelik dat Transnet die vakbond mislei het,” het Harris gesê.

Untu sal oorweeg of hy die loonooreenkoms gaan kanselleer nadat hy in gesprek getree het met die uitvoerende hoof van Transnet, Siyabonga Gama, wat die mandaat aan die onderhandelingspan gegee het. “Untu sal nie toelaat dat Transnet ons leierskap soos dwase laat lyk deur doelbewus noodsaaklike inligting te weerhou nie,” het Harris benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos1 ·

Almal onder die Zuma administrasie, lyk my, is geprogrameer om te lieg en te verneuk. En die Cyril administrasie is te slapg@t om die spul vas te vat. Nou is daar vir die vakbonde net een ding oor om te doen……. staking.

Eish ·

Ek dink nie daar is n enkele instansie wat nie verrot is deur die meerderheid se kankerbestuur nie. Vertroue is n konsep wat tot die geskiedenis behoort en nie n einskap is van Afrika politiek nie.
Nou het jul dit ook geleer. Staak die ligte af,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.