Transnet-hoë in ‘sluipmoordaanval’ geteiken

(Argieffoto)

ʼn Senior lid van Transnet se veiligheidspan is ongedeerd nadat daar op hom losgebrand is in wat Transnet as ʼn “oënskynlike sluipmoordaanval” bestempel het.

Popo Molefe, voorsitter van Transnet, sê die amptenaar was op pad huis toe ná ʼn werksvergadering in Ekurhuleni toe skote op sy voertuig geskiet is. Die amptenaar is nie in die aanval beseer nie, maar die saak is by die polisie aangemeld.”

Volgens Molefe het die man, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, die afgelope 18 maande verskeie doodsdreigemente ontvang. Dit het begin sedert die aanvang van strafregtelike en siviele stappe teen verskeie voormalige uitvoerende lede van Transnet en in aanloop tot sy verskyning voor die Zondo-kommissie na staatskaping.

“Ons is bewus van die vuilspel en terugvegveldtog deur diegene wat Transnet tydens die staatskapingsera geplunder het. Die veldtog is verskerp tydens Transnet se voorleggings aan die Zondo-kommissie, maar het met dié aanval om een van ons spanlede te verwyder, ʼn nuwe vlak bereik,” sê Molefe.

“Ons veroordeel die optrede ten sterkste. Dit is laakbare gedrag en ons doen ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om te verseker die lafaards verantwoordelik hiervoor ry aan die pen.

“Ons wil ook diegene wat in die donker saamsweer laat weet dat ons nie gaan bes gee nie. Die oorlog teen korrupsie en georganiseerde misdaad moet en sal voortgaan, ten spyte van hul pogings om ons te intimideer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pompies ·

neem die hele lot wat geimpliseer is in hegtenis want hulle het die knotrak op sy kop gesit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.