Transnet-hoof, 2 ander ontvang skorsingsbriewe

Siyabonga Gama, uitvoerende hoof van Transnet, en twee ander senior beamptes van die staatsvervoergroep het kennisgewings van die Transnet-raad ontvang van die raad se voorneme om hulle voorlopig te skors.

Thamsanqa Jiyana, die hoofverkrygingsbeampte, en Lindiwe Mdletshe, verkrygingskettingbestuurder, het ook Woensdag saam met Gama hul kennisgewings ontvang. Al drie is kans gegee tot Maandag om redes te verskaf hoekom hulle nie geskors moet word nie.

Dié besluit kom ná verslae van Werksmans Attorneys en forensiese ondersoekers “verskeie gevalle van moontlike wangedrag teen die drie werknemers” aan die lig gebring het en aanbeveel het dat verdere ondersoek gedoen word om die omvang van die beweerde wangedrag vas te stel, het Transnet in ʼn verklaring gesê.

Die beweerde wangedrag hou verband met die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, Transnet se eie verkrygingsbeleide en die Maatskappywet.

Die raad het gesê in Gama se geval stel hulle ook ondersoek in na bewerings dat hy verkeerdelik en met behulp van een van Transnet se diensverskaffers sy MBA bekom het. “In die lig van die ernstige aard van die beweerde oortredings, is die Transnet-raad besorg dat die teenwoordigheid van die drie werknemers, gegewe hul senioriteit en invloed, moontlik met die ondersoek kan inmeng of dit in die wiele kan ry,” het Transnet gesê.

Gama het vroeër vandeesmaand aan Fin24 gesê hy het slegs hulp gekry met die taalgebruik en vloei van sy MBA-tesis, en nie met die inhoud daarvan nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeër vanjaar vir Seth Radebe, ʼn Transnet-direkteur, in die pad gesteek omdat hy nie stappe gedoen het oor Werksmans se bevindinge rakende Transnet se aanskaffing van 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe van vier oorspronklike toerustingvervaardigers nie.

Hy het Radebe daarvan beskuldig dat hy bewyse dat Transnet miljarde rande in die staatskapingskandaal verloor het opsetlik geïgnoreer het. Gordhan het gesê Werksmans se verslag het aangedui dat van die transaksies kan neerkom op verkwistende besteding en dat daar verdere ondersoek, asook strafregtelike ondersoeke, na die transaksies gedoen moes word.

Radebe was volgens berigte ook huiwerig om Gama te skors.

Onder die transaksies was kontrakte met South China Rail, wat na bewering ingestem het om entiteite, wat deur die Gupta-familie se sakevennote op die been gebring is, te betaal nadat hulle die kontrakte ter waarde van R25 miljard met Transnet onderteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann cb ·

Is daar nog eerlike, eerbare mense in Suid-Afrika wie in senior betrekkings aangestel kan word?

Andre ·

Lekker op visvang verlof met vol salaris, Dan nie lank daarna nie ‘n goue handdruk van miljoene. Selfde storie oor-en-oor.

Domvraag ·

Miskien moes die ondersoek ook diens by Portnet en Spoornet ingesluit het maar daar is lyk vir my soveel vrotskakels in die ketting daarom dat nie opgetree word nie.
So draai die wiel.

dries ·

Robert Gomedez besit Guma BEE company,, dit is n one man show wat Chinese stawe supply en prototype wissels vanaf china ,, dan gebruik hulle plaaslikke stawe wat deur Transnet goed gekeur is ,, so maak hulle die firmas wat aan Transnet goedere verskaf dood sodat die mense in SA sonder werk sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.