Transnet-hoof het 10 dae om afdanking te keer

Argieffoto

Siyabonga Gama, hoof- uitvoerende beampte van Transnet, is tien dae kans gegee om redes te verskaf hoekom hy nié afgedank moet word nie.

Popo Molefe, voorsitter van die Transnet-raad, het Donderdag gesê die raad het ʼn brief aan Gama gestuur waarin hy in kennis gestel word van hul voorneme om hom af te dank. Die redes hiervoor is Gama se beweerde ernstige oortredings van sy finansiële, verkrygings- en vertrouenspligte.

“Gevolglik het die raad sy vertroue en geloof in mnr. Gaba se vermoë om Transnet as uitvoerende hoof te lei, verloor,” het Molefe gesê.

Gama moet binne die volgende tien dae ʼn geskrewe voorlegging indien om die raad te oortuig waarom hy nié afgedank moet word nie.

Dié verwikkeling kom nadat Gama verlede maand geskors is rakende die bewerings. Die bewerings spruit uit verslae van Werksmans Attorneys en forensiese ondersoekers waarin Gama betrek word by bewerings van oortredings van verkrygingsreëls rakende ʼn R54 miljard-kontrak om nuwe lokomotiewe aan te koop.

Gama het gesê ondersoeke na die ooreenkoms was nie volledig nie en die voorlopige bevindinge is gegrond op ʼn onvoldoende begrip van Transnet se reëls. Hy het Molefe daarvan beskuldig dat hy hom onregverdig teiken en het aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, geskryf om hom te vra om in te gryp ter wille van die volhoubaarheid van Transnet.

Molefe het Donderdag gesê Gordhan is in kennis gestel van die raad se besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zoom zoom ·

Gaan die goue handdruk kry en dan in geplaas word by ‘n ander staatsafdeling waar hy kan voortgaan om die sakke van die wie is woe se sakke te vul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.