Aansienlike agterstande in die hawe van Durban en ʼn opeenhoping by die Richardsbaai-hawe het tans ʼn groot ekonomiese invloed op die land. Die dringendheid van die situasie het Transnet gedwing om deurslaggewende ingrypings te implementeer wat daarop gemik is om die ekonomiese impak op die land te verlig.
Die vertragings is glo te wyte aan verskeie faktore, insluitend ongunstige weerstoestande en beskikbaarheid van toerusting. Die leierskap van Transnet meen egter hy is ten volle opgewasse om aandag te gee aan die probleem.
“Die probleem van hawe-opeenhoping is kompleks en dit is iets wat een of ander tyd sou gebeur as gevolg van baie jare se onderinvestering in toerusting en die instandhouding daarvan. Ons werk aan ʼn aantal maatreëls om die situasie om te keer. Ons moet daarop wys dat dit geruime tyd gaan neem aangesien die aanlooptye vir sommige van die toerusting enigiets van 12 tot 18 maande is,” het Andile Sangqu, Transnet-raadsvoorsitter, Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê.
“Die span werk onverpoosd om die belangrike toerusting te bekom om te verseker dat ons hawefasiliteite strook met wêreldwye beste praktyke,” het hy gesê.
Hy sê intussen het Transnet die optimalisering van hawebedrywighede deur verbeterde beplanning en vooruitskatting geprioritiseer, “wat tot beter afwagting van vragvolumes sal lei”.
In Durban het ʼn dringende ingrypingspan reeds planne beraam om aandag te gee aan stadige omkeertye, wat die op- en aflaai van houers in die hawe beïnvloed.
By Pier 2 is die plan om die tempo van 2 500 tot 4 000 houers per dag oor die volgende drie maande te verhoog. Onder normale toestande is die houerhanteringtempo by Pier 2 ongeveer 3 300 houers per dag. Die afgelope vier weke het dit egter tot 2 500 afgeneem weens gure weer en probleme met toerusting. By Pier 1 sal die tempo van 1 200 tot 1 500 houers per dag verhoog word.
“Inisiatiewe om die agterstand in te haal sluit in die verkryging van 16 rubberband portaalkrane vir Pier 1 teen die tweede helfte van 2025 en die verkryging van vier skip-tot-wal-hyskrane vir die suidelike kaai van Pier 2 in die 2025-’26 finansiële jaar.
“Ons werk ook tans om kritieke hawetoerusting op te knap en in stand te hou en om batebenutting by Pier 1 en Pier 2 te verbeter. Dit sal teen Augustus 2024 voltooi wees,” sê Sangqu.
Terwyl bykomende hyskrane en toerusting verkry word om die hawe meer doeltreffend te laat funksioneer, is Transnet-werknemers egter versoek om ekstra pogings aan te wend sodat die agterstand ingehaal kan word.
“’n Interne taakspan van gespesialiseerde dissiplines het onlangs ʼn oefening afgesluit om vermorsing uit te skakel en vinnige verbeterings in die stelsel in te stel,” sê Michelle Phillips, Transnet se waarnemende uitvoerende groephoof.
“Hulle het prestasiedata oor alle skofte ingesamel asook elke vaartuig en die werking van alle hyskrane ontleed om probleme en beperkende faktore te identifiseer en verbeteringshefbome te kwantifiseer. Bestuur by ons haweterminale werk 24 uur per dag saam met bedryfsingenieurs van die taakspan om die vlak van werkverrigting op te stoot,” sê Phillips.
Sy sê met al dié inisiatiewe verwag Transnet dat dit ʼn maksimum van sewe weke sal duur om aandag te gee aan die agterstand by Pier 1 en 15 weke vir dié by Pier 2.
“Dit is van kardinale belang dat ons ons bedrywighede deur hierdie korttermynintervensies stabiliseer terwyl ons voortgaan met die breë herstelplan om Transnet-bedrywighede te verbeter.
“Dit is presies wat dit is: ʼn Plan om die bedryf om te draai en beduidende en volhoubare verbeterings te verseker in al ons bedrywighede, en veral ten opsigte van spoorweë en hawens.”
So skielik gaan die mense wat die plek gebreek het dit nou vinnig reg maak ne??
Vertel my nog ‘n sprokie aub.
So lyk kader en onbekwame aanstellings.Hulle darem kan sê hulle is besig om reg te ruk sodat die GETROUE belastingbetalers se miljarde gegee kan word
Terwyte aan verskeie faktore. Ja ons weet presies wat dit is en verseker niks met die weer te doen nie
Transnet bestuur – (Beplanning) vir instandhouding en toekomstige groei en nuwe toerusting is belangriker as salarisse en bonusse (gratis advies van n leek in logistiek)
Ek sien weer groot korrupsie met hierdie projekte.
‘n Soetetjie staan nou al vir jare en suur word in die kas terwyl ons wag vir een stukkie goeie nuus van iets wat in SA se entiteite werk of voorspoed beleef. Maar nee. Wat ‘n vrolike geleentheid sou dit nie kon wees nie. Maar die hoop beskaam.
Wat ‘n grap. Strategiese denke soos beplanning of onderhoud op bates is ‘n “foreign concept” vir die mense.
Stem 100% saam. Hoekom nie 30 jaar terug al beplan?
Asb, is dit die grootste grap vandie dekade? Die huidige Transnet bestuur is geensins bevoeg om die hawe se agterstand uit te wis nie. Breinkrag bestaan nie en solank die ANC in beheer is sal dinge nooit verbeter nie.
(Sarkasties) … Wat – gaan Transnet die reuse-vertragings dalk in ‘n skeepsvraghouer pak, dit in die Ben Schoeman Diepanker Hawe plaas en dan laat sink? Want ek dink dit is al hoe die reuse-vertragings “gepak” kan word.