Transnet-pensioenarisse: ‘Dis ʼn geloofsaak’

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif te oorhandig. Foto: VF Plus

Die Transnet-pensioenarisse se groepsgeding teen Transnet kan nou weer momentum kry ná Woensdag se uitspraak in die konstitusionele hof.

Transnet en sy pensioenfondse het in 2016 besware teen die pensioenarisse se groepseis ingedien. Die hooggeregshof in Pretoria het toe vir Transnet en sy pensioenfondse gedeeltelik gelyk gegee. Die pensioenarisse was twee keer onsuksesvol in hul aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof se bevel. Hulle het in November 2017 vertoë in die konstitusionele hof gelewer.

Die konstitusionele hof het nou die 2016-bevel van die hooggeregshof in Pretoria gewysig deur Transnet se besware van die hand te wys. Die konstitusionele hof se uitspraak beteken die groepsgeding van meer as R80 miljard teen Transnet en sy pensioenfondse kan nou weer momentum kry. Die groepsgeding is al meer as vier jaar aan die gang.

Die groepsgeding gaan oor beloftes wat aan pensioenarisse gemaak is dat hul pensioene met minstens 70% van die inflasiekoers verhoog sal word. Pensioenarisse het egter net ’n jaarlikse statutêre verhoging van 2% gekry.

Die VF Plus, wat die saak namens die pensioenarisse in die parlement opneem, het gesê hy is verheug oor die uitspraak. “Die aangeleentheid het vir die sowat 40 000 verarmde pensioentrekkers, wat groot lyding deurgaan, ʼn geloofsaak geword,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder van vervoer, gesê.

Die VF Plus het die onafhanklike regspan in die saak vir sy werk geloof. Volgens Alberts het hy sowat drie weke gelede met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die saak gepraat en hom gewys op die uitwerking wat dit op Transnet en die staat kan hê indien die konstitusionele hof teen Transnet sou beslis, soos nou gebeur het.

“Op die minister se versoek het ek ʼn skrywe aan hom gerig waarin die hele aangeleentheid volledig uiteengesit is. Hy het dit ontvang en toe reeds begin om die kwessie te ondersoek.”

Alberts het gesê die VF Plus sal nou met meer gesag die gesprek met Gordhan opvolg sodat hy so gou doenlik met die regspan kan beraadslaag om hopelik ʼn spoedige en billike skikking te beding vir onmiddellike verligting vir die pensioenarisse.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bid en baklei ·

Julle kan BID maar hou aan BAKLEI .. julle VERDIEN julle pensioene en verhogings . die STAAT plunder hierdie koekieblikke LEEG … STAAN VAS en vat hulle hof toe TOTDAT Julle julle geld kry …

Niel ·

Leer by die ander, gaan brand af, plunder, dan sal hulle meer aandag gee.

Gertryda ·

Jammer van die wat alboorlede is gaan hul kinders dit nou kry

Retha ·

Hoe lank gaan die arme pensioentrekkers nog moet wag? Gaan hierdie saak met erns so gou as moontlik deurgevoer word? Dankie vir julle harde werk. Dis nou net die laaste hekkie! Die ou mensie kry swaar. Dit lyk so of hulle speel vir tyd en hoop dat hulle doodgaan ….dan hoef hulle minder uit te betaal.

Jacob F Conradie ·

Ek kry geen pen. nie. Was werksaam by Transnet vanaf 1969 tot en net 2014, kan ek ook ‘n eis insit.

Jo-anli ·

Ons moet uur vir uur leef, want die volgense uur weet ons nie of daar kos is nie, kinders weldoeners kerk help. Almal is bankrot. Wat ons vanaand eet weet ek nie. As jou pensioen R2.00 is wat jy uitkry, wat doen jy, knieë al voosgebid. Mag ons Hemelse Vader met ons bly asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.