Transnet-pensioenfonds: Onreëlmatighede sal ondersoek word

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif te oorhandig (Foto: VF Plus)

Die geregtelike kommissie onder leiding van regter Raymond Zondo wat staatskaping moet ondersoek, gaan waarskynlik kyk waarom die Gupta-verwante Regiments Capital as beleggingsadviseur by Transnet se Tweede Vastevoordelefonds (TVVF) aangestel is en na ongerymdhede wat daaruit voortgespruit het.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het dié versekering gegee in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag oor die rol wat Regiments as beleggingsadviseur by die fonds gespeel het, het Anton Alberts, vooristter van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê.

Uit die antwoord het dit ook aan die lig gekom dat Regiments ʼn bedrag van R228 miljoen gekanaliseer het na Trillion Capital Partners, ook ʼn Gupta-verwante maatskappy.

Die VF Plus het ʼn ondersoek-verslag aan Gordhan oorhandig met bewyse dat Regiments en Trillian moontlik verskeie wette verbreek het in hul hantering van ʼn transaksie namens die TVVF.

Agtergrond rondom Regiments wat deel uitmaak van die VF Plus se verslag aan Gordhan, is dat dié maatskappy homself ook diep binne Transnet gevestig het.

Met die hulp van ʼn Gupta-vriend, Stanley Shane, is Regiments aangestel om take te verrig wat Transnet self kon verrig, het Albertys bygevoeg. Shane het daarna voortgegaan om die voorsitter van die twee sukkelende Transnetfondse te word, wie se pensioenarisse nou gewikkel is in ‘n hofgeding van R80 miljard teen Transnet weens die stroping van hul fondse.

“Regiments is ‘toevallig’ aangestel as die fondsbestuurder vir die twee sukkelende pensioenfondse en is eers verwyder toe hy uitgevang is in ʼn rentekoers-ruiltransaksie in botsing van belange met die TVVF.”

Die VF Plus het onder meer vasgestel dat die aanstelling van Regiments strydig was met die Wet op die Voorkeurverkrygingsraamwerk, en die renteruiltransaksie met Transnet as die teenparty het die TVVF-fonds blootgestel aan ‘n transaksie wat die hele fonds kon uitwis.

“Die minister se bevestiging dat die Zondo-kommissie die aangeleentheid gaan ondersoek, word verwelkom en die VF Plus sal sy volle samewerking gee om seker te maak die ongerymdhede word tot op die been oopgevlek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ellisras ·

Die help my natuurlik niks. Ek moes 3 jaar vir my skoonma sorg. Die eis is slegs vir die oorlewendes pensionarisse. Die eis moet wees vanaf ‘n datum. Almal moes in eis wees. Oorlewendes of oorlede.

adri ·

Ek sal net graag wil weet wat het geword van die gelde wat aan die pensioenarisse sou uitbetaal word? my pa is onderander een van die wat nou afhanklik is van daai ou klein pensioen?? Hulle beweer dat dit Julie uitbetaal maar dis nou Augustus en daar is nog niks gesê of gedoen nie??

Sarel Strydom ·

Net vir die ‘show” Vertraag alle ondersoeke en aansoeke om nie rekenskap te gee nie tot daar nie meer een lewende lid van die fonds oor is nie.

Alwyn ·

Regter Zondo se ondersoek kan tot gevolg meebring dat skikking met pensioenarisse dalk uitweg vir Transnet en die pensioenfondse wees om saak verder te vertraag en sodoende tot meeste transnet pensioenarisse nie meer met ons is nie.

Henk du Toit ·

Deur sy optrede het Zuma ons land en al sy mense verraai en dit vir die smerige klomp Guptas op ‘n silwer skinkbord gegee. Ons pensioenfondese is geplunder en nou sit die gespuis oorsee in weelde en gerief. As die ware omvang van die plundery in die Staatsdiens pensioenfonds bekend word gaan die hel losbars. Hoe kon ons gedink het dat Suid Afrika die uitsondering op die reel sou wees? Afrika is Korrup korrup korrup!

Avra ·

Wat moet nog ondersoek word as al die feite bekend is. Doen NOU die regte ding.

Sies Gordan. Dit was jou plig as minister van Finansies om toe te sien dat dinge nie handuit ruk nie. Maar jy het jou blind gehou…. Doen dit nogsteeds.. Skande

Ansie ·

Dit laat mens wonder waar Eskom se pensioengeld oral bele is en hoe seker ons kan wees dat daar nie ongrymhede is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.