Transnet-raad geroskam oor afwesigheid

Linda Mabaso, voorsitter van Transnet se raad, en Siyabonga Gama, die groep uitvoerende hoof, verskyn voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa). Foto: Chantall Presence/ANA

LP’s het Dinsdag die raad en uitvoerende bestuur van Transnet voor stok gekry nadat hulle nie in Desember verlede jaar voor die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) verskyn het soos van hulle verwag is nie.

Die raadslede en uitvoerende bestuurslede het nie op 6 Desember opgedaag vir die vergadering nie wat daartoe gelei het dat die parlement dagvaardings aan hulle uitgereik het om in Januarie te verskyn.

Die beamptes is gedwing om ʼn eed af te lê dat hulle die volle waarheid aan LP’s sal vertel voordat hulle gevra is hoekom hulle nie in Desember opgedaag het nie. Verskonings vir hul afwesigheid by verlede jaar se vergadering het gewissel van ʼn raadslid wat met vakansie was, nog een wat nie voorbereid was nie en nog een wat pas ʼn baba gehad het.

LP’s was glad nie beïndruk met hul verskonings nie. Sommige raadslede was glo wel in Kaapstad vir die vergadering, maar het weer geloop nadat Linda Mabaso, die raadsvoorsitter, aan hulle gesê het om nie die vergadering by te woon nie.

ANC-LP Vincent Smith het aan die raad en bestuurslede gesê hulle het die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oortree. “Die erns van wat julle in die gesig staar … Die Wet op Openbare Finansiële Bestuur praat van tronkstraf. Artikel 86 (2) praat van tronkstraf en/of ʼn boete en ek dreig julle nie, ek belowe julle,” het ʼn ontstoke Smith gesê.

“Daar sal nie nog ʼn maatskappy in staatsbesit ondergaan omdat die raad sy fidusiêre pligte versuim het nie.”

Artikel 86 (2) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur stel dit dat die aanspreeklike owerheid, in hierdie geval die Transnet-raad, beboet kan word of tronkstraf “van nie meer as vyf jaar nie” opgelê kan word indien hulle skuldig bevind word aan ʼn oortreding, waaronder versuim om verantwoording aan die parlement te doen.

Mabaso het gereageer dat raadslede nie beskikbaar of voorbereid was vir die vergadering nie, ondanks ʼn mediaverklaring wat deur Transnet uitgereik is waarin daar aangedui word hulle is. Sy het ook gesê die vergadering is op kort kennisgewing geskeduleer.

Die ANC se Mnyami Booi het Mabaso se verduideliking verwerp en gesê sy was in November in die Scopa-vergadering waar daar besluit is op die verhoor van 6 Desember. Hy het haar daarvan beskuldig dat sy die Grondwet oortree en lieg.

“Sy het gepraat oor 48 uur lange kennisgewing. Sy was in Scopa en het saamgestem en dit is waar die oneerlikheid inkom,” het Booi gesê.

EFF-LP Ntombovuyo Mente het gesê die raadslede en bestuur beledig die parlement en sy wetgewers deur te lieg. “Die raad moet misdadig verklaar word en strafregtelike aanklagte moet aanhangig gemaak word,” het Mente gesê.

DA-LP David Ross het gesê die feit dat die raad en bestuur nie opgedaag het nie, word nie ernstig opgeneem deur die betrokke partye nie. Hy het gesê dit is teleurstellend aangesien daar R692 miljoen se onreëlmatige uitgawes by Transnet aangeteken is, R21 miljoen se vrugtelose en verkwistende besteding en nog miljoene rande in twyfelagtige kontrakte.

“Daar is ʼn integriteitskrisis en ek dink daar moet gevolge wees.”

ANC-LP Nthabiseng Khunou het die komitee daaraan herinner dat openbare geld gebruik is op verlede jaar se onsuksesvolle vergadering en het daarop aangedring dat die parlement, die Valke en die Tesourie vergoed word vir die koste. “Dit is openbare geld en ons gaan seker maak dat elke enkele sent wat deur belastingbetalers betaal word, beskerm word,” het Khunou gesê.

Mkhuleko Hlengwa van die Inkatha Vryheidsparty het voorgestel die geld moet uit Mabaso se sak kom omdat sy “die ineenstorting van die parlementêre vergadering veroorsaak het”.

“Ek het twee dae se lesings gemis om hierheen te kom net sodat die raadsvoorsitter die vermetelheid kan hê om aan ons te sê sy sit in Johannesburg. En om nou hier te sit met ʼn ongeërgde gesig illustreer die probleem,” het Hlengwa gesê.

“Die eerste persoon wie se kop moet rol is die voorsitter. Inteendeel, sy moet die volle koste in haar persoonlike hoedanigheid dra. Dit punt van die saak is die voorsitter van die raad lei Transnet op ʼn dwaalspoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Arie ·

Minagting van die Parlement op die vlak wat dit hier gedoen is MOET gestraf word.

Soos voorgestel deur Hlengwe.

Andre ·

Ag foeitog Vincent .Wie probeer julle, die komitee mislei met daardie sterk en aggressiewe verklarings oor tronkstraf ens. Julle weet en ons weet dat nie een van daai “struggle comrades” op die Raad
rerig uiteindelik sal beboet word en/of tronk toe sal gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.