Transnet-raad moet antwoorde gee

Argieffoto

Die raad en uitvoerende bestuur van Transnet sal glo Dinsdag voor lede van die parlement verskyn nadat die parlement dagvaardings aan hulle uitgereik het.

Die dagvaardings is in Desember uitgereik kort nadat uitvoerende en nie-uitvoerende beamptes van dié onderneming nie voor die parlement se staande komitee van openbare rekeninge (Scopa) verskyn het nie.

Themba Godi, voorsitter van Scopa, het gesê hulle het besluit om individue op die raad en uitvoerende komitee te dagvaar om voor die parlement te verskyn nadat hulle nie op 6 Desember verlede jaar, soos geskeduleer, voor die komitee verskyn het nie.

Volgens Godi sal hulle moet verantwoording doen oor beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en kontraktuele afwykings en uitbreidings vir die 2016/2017 finansiële jaar, insluitend die eerste en tweede kwartale van 2017.

Linda Mabaso, voorsitter van die raad, en haar span sou na verwagting in Desember antwoorde aan LP’s verskaf oor verdagte kontrakte ter waarde van miljarde rande. Sy het egter vir Godi aangedui dit sou haar beter pas indien die vergadering in Januarie kon plaasvind.

Godi het haar egter in kennis gestel die vergadering sou voortgaan en dat daar verwag word dat sy en haar span teenwoordig moet wees.

Toe Mabaso en die Transnet- uitvoerende beamptes nie opdaag nie, was LP’s woedend en het hulle voorgestel dat die Transnet-beamptes verplig word om verantwoording aan die komitee te doen.

Godi het ten tyde van die voorval gesê: “Ons moet hulle die tweede dag van komiteeweek in Januarie roep, maar in stede daarvan om hulle te nooi moet ons hulle dagvaar sodat hulle die vernedering ervaar om gedagvaar te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Doring Rosie ·

Julle so gaan alles, maar alles, net verder agteruit en as alles in hulle peetjie in is gaan daar net skuoer opgetrek word. Elke ondersoek kos die Regering miljarde wat beter aangewend kon word. Wat is volgende?.

Jacques venter ·

Laat hulle arresteer as hulle nie opdaag nie. Die lekkery moet end kry. Miljarde word vermors en dan het hulle die vermetelheid om die parlement te ignoreer

Oosie ·

Hoekom het hulle ‘n Raad? Wat is die doel? Oral waar ‘n ‘Raad’ is , is dit ‘n gemors…

Sarel Strydom ·

Dagvaar ook sommer Minister vir Openbare Ondernemings. Hulle werk mos vir haar en sy het aanstellings gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.