Transnet se finansiële hoof bedank

Die departement van openbare ondernemings het Garry Pita, finansiële hoof van Transnet, se bedanking bevestig.

Makgola Makololo, waarnemende direkteur-generaal van die departement, sê minister Pravin Gordhan is reeds van Pita se bedanking in kennis gestel. Hy sê Pita se bedanking is deur die Transnet-raad aanvaar.

“Die minister het sy bedanking verwelkom,” sê Makololo. “Transnet word in die gesig gestaar deur ʼn reeks bewerings van korrupsie en wanbesteding met hoogs verdagte en twyfelagtige transaksies tot nadeel van Transnet en sy reputasie.”

Volgens hom moet die direksie nog “geloofwaardige verduidelikings” gee oor hoe sulke transaksies goedgekeur is in opeenvolgende finansiële jare. Makololo meen Transnet moet verantwoording doen vir die magdom inligting wat daarop dui dat die maatskappy ʼn teiken van staatskaping geraak het. Hy sê Pita sal steeds ná sy bedanking verantwoordbaar gehou word.

Pita het Donderdagaand gesê sy bedanking sal aan die einde van die 2018/19 finansiële jaar in werking tree. Hy het sy gesondheid en werkspanning as redes vir sy bedanking voorgehou.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 6 April gesê ʼn spesiale ondersoekspan gaan ondersoek instel na bewerings van wanadministrasie by Transnet.

Transnet het in Februarie gesê hy gaan nie dissiplinêre stappe doen of enige beamptes skors wat betrokke was by die sogenaamde lokomotief-skandaal nie, as gevolg van die onbeslissende aard van die forensiese verslag.

Transnet het verlede jaar die regsfirma Werksmans aangestel om bewerings van korrupsie in die verkryging van 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe van vier oorspronklike toerustingvervaardigers te ondersoek. Die maatskappy het die bewerings ook aan die Valke gerapporteer. Die maatskappy het in Maart 2014 kontrakte met General Electric, Bombardier Transport, China South Rail en China North Rail geteken vir die verskaffing van 1 064 diesel- en elektriese lokomotiewe.

Kort daarna is talle aantygings geopper oor die totale beraamde koste vir die aankoop van dié lokomotiewe. Die meeste van dié aantygings was verwant aan die beweerde betrokkenheid van die Gupta-familie en hul verwante maatskappy in dié transaksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wilma ·

Hy moes eintlik gefire word. Wie bedank indien jy weet jyt nix om weg te steek. Sies

Genieve ·

As die pap te duk aangemaak word, dan word bedankings ingehandig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.