Transnet sê Rapport se artikel is vals

Rapport het verlede week die voorbladstorie oor Transnet gepubliseer

Rapport het verlede week die voorbladstorie oor Transnet gepubliseer

‘n Onlangse berig in Rapport oor die lot van Transnet-pensioenarisse is onakkuraat, ongegrond en sonder bewyse, sê die maatskappy in ‘n brief wat Sondag in die koerant verskyn het.

Mboniso Sigonyela, woordvoerder van Transnet SOC Ltd, sê verskeie uitlatings is aan Brian Molefe, uitvoerende hoof, toegeskryf. Die artikel het onder meer beweer dat Molefe gesê het die lot van die pensioenarisse pla hom nie aangesien hulle “begunstigdes van apartheid” is.

Sigonyela sê Molefe het nooit melding gemaak van die term nie en dat dit vals is om voor te gee dat hy nie omgee oor die lot van wit pensioenarisse nie.

“Gedurende ‘n gesprek met julle korrespondent verlede jaar het mnr. Molefe gevra hoekom die koerant nie ook bekommerd is oor die situasie van swart pensioenarisse wat glad nie ‘n pensioen ontvang nie aangesien hulle tydens apartheid nie aan ‘n fonds mag behoort het nie,” het Sigonyela gesê.

“Alle groephoofde by Transnet is bekommerd oor ons pensioenarisse. Dit blyk dat die doel van die verklaring was om opsetlik skadelik en beledigend te wees oor die beeld van groephoof en die reputasie van Transnet.”

Rapport het verlede week berig oor ‘n hofaansoek deur twee Transnet-pensioenarisse om goedkeuring te kry vir ‘n R80 miljard-klasaksie teen die staatsinstelling en sy pensioenfondse. Die hooggeregshof in Pretoria het verlede week die saak aangehoor en sal na verwagting volgende week uitspraak lewer.

Rapport het ook berig dat Transnet een van die fondse van sy bates gestroop het en beplan om dit te ontbind. Sigonyela sê in die brief dit is vals om te beweer dat Transnet beplan om die fonds te ontbind.

“Ons het dit duidelik gemaak aan jou korrespondent. Transnet het nie so ‘n versoek van die raad van trustees van die Tweede Transnet Vaste Voordeelfonds (TSDBF) gekry nie. Transnet het nog altyd gemik om in die beste belange van die fonds en sy begunstigdes op te tree.”

Sigonyela sê die bewering dat die fonds se bates gestroop word, is nog ‘n bewering wat deur die koerant opgemaak is. “Die raad van trustees het oor die afgelope paar jaar onverpoosd gewerk om die posisie van die TSDBF-pensioenarisse te verbeter.”

Sigonyela sê die trustees se toegewyde pogings het tot gevolg gehad dat die fonds finansieel sterker en meer stabiel is. Hy sê die koerant se bewering dat die TSDBF se raad van trustees onder volle beheer van Transnet is, is ook nie waar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

@fritzoos ·

Slegs een vraag van my….. Waar is die geld dan? Transnet was die sterkste pensioenfonds. Wat het verander? Ek bestuur verander het dan trek daar rook.

maria ·

As alles leuens is wat is die waarheid. Verseker is daar genoeg bewyse sodat Advokate voel dit is belangrik om hulle na die hof te wend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.