Transnet skors 8 top-bestuurders

Argieffoto

Transnet het voorkomende skorsingsbriewe aan agt topbestuurders uitgereik nadat aanbevelings deur vorige interne oudits en forensies verslae nie deur die bestuur geïmplementeer is nie.

“Die besluit om die bestuurders voorkomend te skors is geneem nadat daar besef is dat verslae wat oor die jare opgestel is net lê en ophoop en nie opgevolg word nie. Die indruk is dus geskep dat die forensiese verslae se bevindinge slegs deur enkele werknemers opgevolg is,” het Transnet in ʼn verklaring gesê.

Die staatsbeheerde instelling het gesê ten einde “gelykheid en regverdigheid” te verseker teenoor almal betrokke het die maatskappy ʼn eksterne ondersteuningsdiens ingekry om die aanbevelings in die verslae te finaliseer.

Tau Morwe, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet, het gesê die skorsingsbriewe is aan senior bestuurders uitgereik, insluitend hoof- en uitvoerende bestuurders. Van die bestuurders word in verslae wat al in 2011 opgestel is geïmpliseer.

“Aanbevelings wat uit die verslae voortgespruit het, is nie deur bestuur opgevolg nie. Ons het anonieme klagtes van werknemers ontvang oor sommige van die bewerings wat in die verslae genoem word,” het Morwe gesê.

Die top-bestuurders is 48 uur gegee om redes aan te voer hoekom hulle nie geskors moet word nie.

Molatwane Likhete, woordvoerder van Transnet, het gesê meer besonderhede oor die klagtes teen die bestuurders sal bekend gemaak word sodra alle ondersoeke afgehandel is.

“Dit word alles gedoen met die doel om goeie korporatiewe bestuur te verseker en die integriteit van die maatskappy te herstel. Die skorsings word op ʼn oop en deursigtige wyse hanteer, en die regte van geaffekteerde werknemers word gerespekteer,” het Likhethe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jerry ·

Dit het agt jaar gevat vandat hulle geimpiseer was om hulle te skors. Met nuwe kaders wat aangestel word gaan dit ook eers n hele paar jaar vat voor hulle geskors word en so karring die kaders aan totdat niks meer oor is om te plunder nie.

Msp ·

Om te dink jare gelede kon jy bykans oral met ń trein ry. Die eens trots Barberton en Witrivier stasies is geheel en al tot nuut. Nie eers te praat van al die plakkerhuisies wat boop die treinspore gebou is nie, wat se skande. So te sê die hele Oos Transvaal se treinspore is nie meer in gebruik nie. Fabrieke het maar besluit om vragmotors te gebruik. Ons paaie is geheel en al oorlaai met vragmotors wat beteken meer ongelukkig en dood op ons paaie.

Wilma ·

Hahaha ons is nie verbaas ni. Oral by staats instellings gan dit so

Gert van Wierdapark ·

Wat is die groot geheim rondom hul name? Dit moet bekend gemaak word sodat die jellievisse een vir een aangekeer kan word!

PJC ·

Dit is moeilik om te verteer dat eens doeltreffende en trotse staatsinstellings wat die ruggraat van die land was nou in so ń haglike toestand verkeer. Dit dui ook sommer aan waarnatoe die hele land op pad is as daar nie een of ander wonderwerk gebeur nie.

Von ·

Wat n sirkus…en nou het hulle nog n geleentheid om te se hoekom hulle nie geskors moet word nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.