Transnet speel dodelike speletjie met pensioenarisse se lewens, sê VF Plus

Die Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om 'n beswaarskrif aan pres. Jacob Zuma te oorhandig oor die skandalige lewensomstandighede van die pensioenarisse Foto: VF Plus

Die Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif aan pres. Jacob Zuma te oorhandig oor die skandalige lewensomstandighede van die pensioenarisse Foto: VF Plus

Skoksyfers wat deur geskrewe parlementêre vrae van die minister van vervoer bekom is, wys dat Transnet-pensioenarisse vinnig besig is om af te sterf terwyl die staatsinstelling gevoelloos besig is om die groepsgeding-saak teen die pensioenarisse met vertragingstaktiek uit te rek.

Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir vervoer, het gesê antwoorde van die minister wys dat tussen 273 en 460 pensioenarisse wat lede is van die grootste pensioenfonds (die Transnet Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF)) elke maand afsterf.

In totaal het daar, sedert die groepsgeding-hofsaak op 26 April 2013 begin het tot en met Oktober 2014, 6 866 TTVVF-pensioenarisse afgesterf. Daar het dus ʼn gemiddeld van 361 TTVVF-pensioenarisse per maand gesterf.

Tans bestaan die fonds uit 60 138 lede. Die kleiner fonds, die Transport Pensioenfonds (TPF), bestaan tans uit 6 264 lede waarvan ʼn totaal van 298 afgesterf het sedert April 2013.

Die belangrikste feit is egter die algemene hoë ouderdom van die pensioenarisse. Die minister het aangedui dat die gemiddelde ouderdom van die TTVVF-pensioenarisse 75 jaar en 8 maande is en vir die TPF-pensioenarisse 65 jaar.

“Die TTVVF-pensioenarisse se aktuariële lewensverwagting is net 8 jaar en 3 maande en dié van die TPF-pensioenarisse wisselend onder die drie subfondse tussen 13 en 14 jaar,” het Alberts bygevoeg. “Daar is dus volgens Transnet self nie meer lank om te wag voordat die pensioenfondse se getalle drasties gaan verminder nie.”

Volgens Alberts is die menselyding wat Transnet met hul optrede veroorsaak, onmeetbaar en dié skending van menseregte kom opsigself neer op ʼn misdaad.

“Sommige van die pensioenarisse, wat hul lewe lank tot die fondse bygedra het, kry net R1 per maand na hul aftrekkings. Van hulle sterf van ontbering terwyl ander selfmoord pleeg om van hul lyding te ontsnap,” het hy verduidelik. “Daar kan net een afleiding hieruit gemaak word, hoe grusaam dit ook mag wees, en dit is dat hierdie vertragingstaktiek daarop gerig is om te sorg dat die meeste pensioenarisse afsterf voordat hulle dalk sukses in die hof kan behaal.”

Transnet het nou al twee keer teen die groepsgeding-hofbevel probeer appelleer. Daar word nog gewag vir die uitspraak of verlof tot appèl aan Transnet verleen is vanaf die hoogste hof van appèl.

Alberts het gesê indien Transnet ernstig was om die swak pensioene van sy eie vorige werknemers te verbeter, sou hy lank reeds planne gemaak het om die hofsaak te skik. Dit blyk egter dat Transnet moedswillig voortbeur teen die R79 miljard groepsgeding wat hy uiteindelik gaan verloor.

“Dit is ʼn tragiese situasie, aangesien Transnet, wat geen verweer in die groepsgeding het nie, weet dat hy finansiële selfmoord pleeg deur met die saak voort te gaan. Hierdie is ʼn skreiende onreg wat so gou doenlik reggestel moet word om die lewenskwaliteit van die pensioenarisse te verbeter. ʼn Land wat nie na sy bejaardes omsien nie is ʼn land wat in sonde leef. So ʼn regering sal tot ʼn val kom,” het hy gesê. “Die VF Plus sal voortgaan met sy stryd vir die pensioenarisse en glo dat geregtigheid wel sal seëvier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henry ·

Wat ‘n skreiende skande!!!
Dankie dat VF plus hierdie stryd voer om geregtigheid te laat geskied.
Teen die agtergrond van die regime se pogings om hul verantwoordelikhede te ontwyk, word ‘n spoedige oplossing egter betwyfel.
Miskien moet alles nou in die stryd gewerp word om hierdie onregte aan die buitewêreld bekend te stel. Uiteindelik is dit sulke optredes deur hierdie droewe land se maghebbers, wat ons almal vorentoe gaan raak.

C Herselman ·

Miskien moet die kindersvan die afgestorwendes maar eise instel teen Transnet, aangesien hulle vir jare hul ouers finansieel moes bystaan.

Fourie ·

Julle kan mos nou by julle self dink – die geld word gesteel – dis ‘n korrupte lot!!!! Ek kan slange vang as ek hierdie dinge lees, maag wat die lot vergeet is GOD SLAAP NIE en julle sal julle dag kry vir dit wat julle teen hierdie mense doen. Dan VF dat julle baklei vir die pensionarisse.

Babs ·

Die Transnet bestuur wat die eise teenstaan moet net een ding onthou. Hulle wil graag hê die pensioenarisse moet uitsterf sodat die eise kan verval – hulle mag dalk voor die pensioenarisse gaan. Meeste van die pensioenarisse het niks om na uit te sien. Hulle kan nie ordentlike mediese behandeling kry want alhoewel hulle rekeninge by die staatshospitale betaal word, word hulle ook nie altyd menswaardig behandel nie. So word hulle daar ook uitgebuit. Dankie aan VF+ wat mense se nood raaksien en hulle wil ophelp.

Pieter ·

Vra Max du Preez, Adriaan Basson en Hel-in Zille nou wat nou van nasiebou

eish?! ·

Ek weet van ‘n tannie wat familie-loos agtergebly het. Sy is 86jaar oud en bly op haar eie in ‘n stokou bouvallige huis. Sy kan nie ‘n ouetehuis bekostig nie en kry minder as R2000 pm van transnet? Haar kind is dood en al haar en haar man se familie ook. Sy is regtig alleen, stoksiel alleen oor. Sy mag nie staatspensioen eis nie, dit is teen die wet. Sy krepeer! Dankie Transnet! idiote!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.