Transnet toon wins ondanks miljarde se onreëlmatige besteding

Argieffoto

Transnet het aangekondig dat die maatskappy na verwagting R163,7 miljard oor die volgende vyf jaar sal spandeer met die doel om volumes te verhoog, asook nuwe markte uitbrei om op te maak vir die laer groei wat in hul tradisionele markte verwag word.

Dié staatsbeheerde maatskappy het reeds in die afgelope ses jaar R165,6 miljard aan beleggings spandeer, met R21,8 miljard hiervan wat reeds vanjaar spandeer is.

Dít kom ná Transnet sy omset met 11,3% tot R72,9 miljard verhoog het in die boekjaar tot einde Maart.

Die verhoging kan toegeskryf word aan ʼn verhoging in die volume steenkool wat per trein uitgevoer word, ʼn toename in spoorvoertuie en die volumes van vraghouers en skeepsvraghouers.

Volgens Transnet is die mees merkbare belegging die aankoop van die omstrede lokomotiewe om sy vloot te moderniseer in afwagting vir die toename in algemene vragvolumes en die vaslegging van die “pad na spoor”-strategie.

Transnet het gesê teen 31 Maart 2018 het die kumulatiewe uitgawes op die kontrak vir 1 064 lokomotiewe R30,1 miljard beloop. R7,3 miljard daarvan is in die huidige boekjaar bestee.

“Altesaam 402 lokomotiewe is reeds in bedryf, terwyl 16 afgelewer is en tans toetse ondergaan,” het Transnet gesê.

Volgens Transnet dra hul verkrygingsaktiwiteite direk by tot die groei en ekonomiese transformasie van Suid-Afrika en kan dit ʼn toename in die getal voorheen benadeeldes wat ondernemings bestuur, besit en beheer tot gevolg hê.

Transnet het ook R8,1 miljard se onreëlmatige besteding in die afgelope boekjaar aangegaan vergeleke met die vorige boekjaar se R692 miljoen. Dít is glo as gevolg van die maatskappy wat kontrakte van sover as 2009 hersien en verkrygingsprobleme in dié resultate opgetel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hoe nou ·

Nogsteeds moet iemand verantwoordelik gehou word vir die wanbesteding.

zoom zoom ·

Nou kan die top menere weer vet bonuse kry vir hulle harde werk.

Justice ·

Omset verhoging tot R72.9 miljard is nog lank nie wins nie – wat is die ware wins na operasionele uitgawes soos ona salarisse, rentes op lenings en belasting betaal is en dan afgetrek is vanaf die omset om by die netto wins bedrag uit te kom?

Tanja ·

Wat van stappe om die diewe en onbevoegdes wat nie volgens voorskrif optree vas te vat nie? Korrupsie en onbevoegdheid, onder veral staatsamptenare moet stop. Hulle vergeet dis die belasting betalers wat elke keer vir die diefstal, swak diens, onbevoegdes en korrupsie betaal. Al gedink wat gaan gebeur as die belasting betaler ophou betaal?

Nettie ·

Hulle maak “hand over fist” wins, maar nog steeds kan hulle nie hul pensioenarisse ordentlike – ten minste, markverwante – verhogings op hul pensioene betaal of die paar residensiële eiendomme wat nog in hul besit is, ordentlik instand hou nie?

Joshua ·

Is dit waar dat die CEO Transnet n maandeljkse salaris van R720,000 ontvang en vir wat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.