Transnet, Untu bereik loonooreenkoms

Die haweterminaal in Kaapstad. (Foto: Transnet)

Transnet en sy meerderheidsvakbond, die United National Transport Union (Untu), het uiteindelik ’n loonooreenkoms bereik. Dié drie jaar loonooreenkoms is Maandag gesluit en bring ’n onmiddellike einde aan lede van dié vakbond se staking by Transnet.

Untu verteenwoordig 53,9% van dié staatsbeheerde onderneming se werkers.

Transnet sê in ’n verklaring Untu het eindelik ingestem tot ’n ooreenkoms wat terugwerkend is en van begin April vanjaar tot einde Maart 2025 geld. Dié ooreenkoms sluit in ʼn 6%-verhoging in die eerste jaar, ʼn 5,5%-verhoging in die tweede jaar en ʼn 6%-verhoging in die derde jaar.

’n Verhoging in mediesefonds- en behuisingsubsidies vorm ook deel van die ooreenkoms. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het as bemiddelaar in die loononderhandelings opgetree.

Luidens die verklaring is die ooreenkoms van toepassing op alle lede van die bedingingseenheid, insluitend diegene wat nie lede van Untu is nie.

Transnet is verantwoordelik vir Suid-Afrika se spoorvragnetwerk en om al die land se hawens te bedryf. Werknemers het sedert 6 Oktober gestaak wat daartoe gelei het dat in- en uitvoere sedertdien tot stilstand gekom het.

Transnet sê hy is nou daarop gefokus om die agterstand by die land se hawens en spoorlyne te begin inhaal.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die ontwrigtende staking hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Henry ·

Almal wil net meer geld hè. Dit beteken dat al die pryse styg. Pensionarisse kry nie juis verhogings nie dalk een of twee persent per jaar. Hulle kan nie staak nie moet dit net aanvaar.

Burgermeester ·

As daar gesê word dat hulle ‘n drie jaar loonooreenkoms bereik het, beteken dit dat die vakbonde nie vir die volgende drie jaar gaan staak oor lone nie?

Catherina ·

Staak….breek af……Dan kry jy jou sin in hierdie land. Gehoorsame burgers aanvaar maar en gaan aan. Gaan my nie verneder en rondspring , gil, take van bome afskeur nie.

Hannelie ·

UITEINDELIK!!!! Want die stakers het hul medewerkers geintimideer omdat hul nie saam gestaak het nie.

Sobymykoolkop ·

Dis nie waar nie Hannelie. Niemand is verhoed om te werk nie, ek het van dag 1 tot die einde elke dag gewerk. Hulle het wel buite baie mooi gesing en ons verskriklike name genoem.

Delia ·

Dankie vir die stukkie waarheid. Ons skeer so maklik alles oor dieselfde kam en praat oor goed waarvan ons nie kennis het

Danie ·

Die land moes eers weereens op sy kniee gebring word.Dis mos hoe dit werk.En wie ly die skade ???

Martin ·

Ja asseblief tog, ons moet net nie die oorseese mark se uitlanders weerhou van ons bessies in die more saam met hulle yoghurt nie!

Pieter ·

Wonder wat moet ek se, my werkgewer het in 2018 laas verhogings gegee. So vir 4 jaar in n ry het ek geen verhoging gekry nie,maar alles gaan elke jaar op, medies,pensioen,versekering,skoolgeld………………
Ek dink so iets moet teen die wet wees om jou werkers so te misbruik

Stephen ·

As pensioenaris gaan ek ook nou staak. Ek wil teruggaan werk toe!

Erika ·

Dit is nie gesond vir die Land se Ekonomie as hierdie staking sou voorduur nie…-Dit was Wys om die ooreenkoms te aanvaar..
Die Ironie van die saak is die salaris verhoging waarvoor mense baklei het gaan weer afgetrek word om hoer koste te dek . van petrol/Motor Paaiemente /bond .,ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.