Ao. Andre de Jager, woordvoerder van die polisie, het gesê die 30-jarige slagoffer is omstreeks 07:00 by die Union-stasie in Dinwiddie in die bolyf geskiet.
Die man het glo met een van die veiligheidsbeamptes begin baklei nadat hy van die trein af vergesel is. “Daar word beweer dat Transnet-veiligheidbeamptes pendelaars vir hul kaartjies gevra het en diegene wat nie kaartjies gehad het nie, moes die trein verlaat.”
Diegene sonder kaartjies is beveel om op ʼn sekere plek te staan en wag, het De Jager bygevoeg. Pendelaars beweer hulle is deur die veiligheidsbeamptes aangerand. “Een van die pendelaars het glo terugbaklei. ʼn Veiligheidsbeampte het sy vuurwapen uitgeruk en ʼn skoot afgevuur.”
Die veiligheidswag sal binnekort in die Germiston-landdroshof verskyn op aanklag van moord.