Transvaal- en Boklegende verloor kankerstryd

Paul Bayvel saam met sy twee kleinseuns, Cade en Cole. Foto: Verskaf.

Die legendariese skrumskakel van die Springbokke en Transvaal, Paul Bayvel, het gisteraand om middernag sy stryd teen kanker verloor.

Die 71-jarige Bayvel is vroeër met longkanker gediagnoseer en dit het later na sy ruggraat versprei.

“Ons pa is gisteraand vreedsaam in sy eie huis oorlede. Hy was omring deur sy vrou van 45 jaar en sy drie dogters,” het Jo-Jo Bayvel, sy dogter, aan Maroela Media gesê.

As speler was Bayvel ’n vlugvoetige skrumskakel wat tussen 1974 en 1976 in tien toetse vir die Springbokke gespeel het. Hy was ’n lid van Morné du Plessis se Bokspan wat die All Blacks met 3 – 1 in 1976 getroef het.

“Oom Paul was ’n wonderlike skrumskakel. Saam met Gerald Bosch het hulle nie net ’n formidabele skakelpaar vir Transvaal gevorm nie, maar ook vir die Bokke,” het Kobus Wiese vanoggend aan Maroela Media gesê.

Wiese het ’n staaltjie om te vertel toe hy destyds vir Bayvel genader het vir ’n insetsel op die rugbyprogram Oor die kole.

Hy was ’n talentvolle skrumskakel vir Transvaal en die Springbokke. Foto: Verskaf.

“Hy was ’n baie private en nederige persoon, maar hy het uiteindelik ingestem en dit was een van die lekkerste onderhoude nóg. Ons het ná die tyd geskerts dat hy net ja gesê het omdat ons al twee vir Transvaal gespeel het!”

Volgens Jo-Jo is haar pa Maandag uit die hospitaal ontslaan; ’n wonderwerk want weens die Covid-19-afsonderingstydperk was besoektye streng beperk.

“Ons het nog altyd my pa se sterk karakter en taaiheid bewonder en hy kon sy laaste paar dae saam met sy gesin deurbring.

“Hy het in ongelooflike pyn verkeer, maar ons het die geleentheid gehad om kosbare tyd saam met hom deur te bring en hy kon selfs sy twee kleinseuns – Cole en Cade – groet. Die vierjarige Cade sal ons daagliks aan my pa herinner; hy is sy oupa se spieëlbeeld wat voorkoms en geaardheid betref.”

Saam met familie. Foto: Verskaf.

“My pa was gereed om te gaan…. Hy het sy laaste asem in die teenwoordigheid van sy geliefdes uitgeblaas met die wete dat hy binnekort sy Skepper sal sien.”

Op die rugbyveld was Bayvel talle jong spelers se held, terwyl hy in die sakewêreld ’n gerespekteerde man was. Vir die Bayvel-dogters was hy ’n wonderlike pa.

“Hy het sy ‘girls’ met alles in hom liefgehad en hy het vir ons gesorg. Hy was ons legende, beskermer en alles wat ’n pa moes wees. Ons mis hom en het hom oneindig lief.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Bring sommer trane in n mens se oe..

Jaco

RIV

Wiehan

Nog ‘n grote weg maar nou is hy met die GROOT VADER. Geen meer pyn nie. RIV Paul

MakersMark

Groot speler gewees, deel van ‘n baie sterk TVL span van die ’70’s. Was een van die beter skrumskakel in die wereld in sy tyd. Jammer hy is weg.

Frieda

RIV jy sal altyd onthou word.