Tree vir tree na ’n beter toekoms

Sandra Marais se navorsing oor beperkte bronne in Prins Albert en omliggende dorpe het oë laat rek en beursies oopgemaak sodat meer ontwikkelingsgeleenthede vir jongmense geskep kon word. (Foto: Verskaf)

Wanneer ʼn sosiologiedosent met navorsing besig is en later besef sy kan nie van die behoeftes wat sy op voetsoolvlak raaksien wegstap nie, begin wonderlike dinge gebeur, skryf Sarie Marais-Nell.

Sandra Marais van Stellenbosch was vroeër ʼn sosiologiedosent aan Unisa waar sy uiteraard baie ondervinding met afstandonderrig opgedoen het. Toe sy later jare as navorser by die Mediese Navorsingsraad (MNR) in Parow begin werk het en met die opstel van vraelyste gehelp het om menslike dilemmas op voetsoolvlak statisties na te vors, het haar lewenskeuses geleidelik begin verander. Sy vertel:

“By die MNR het ek met navorsing oor beserings op vrugteplase gehelp sodat vroue opgelei kon word om kleiner beserings doeltreffend te hanteer en groter beserings dadelik te verwys. Tydens ʼn latere projek het ons navorsing oor fetale alkoholsindroom (FAS) in die Boland gedoen. Drankmisbruik tydens swangerskap het baie ernstige gevolge op babas en kinders, maar skynbaar was baie vroue onbewus daarvan.

“Ons het die Wêreldgesondheidsorganisasie se inligtingsboekie oor alkoholmisbruik en die gevolge daarvan vertaal en uitgedeel. Ons het hard gewerk om bewusmaking hieroor te doen. Uiteindelik kon ons sien hoe mense se lewens verander sodra hulle beter ingelig is.”

Tydens elk van hierdie prosesse het sy ook interessante nuwe vriendinne gemaak.

Sandra raak toe by groepwerk in Delft betrokke, ʼn woongebied langs Kaapstad-lughawe waar inwoners swaar onder werkloosheid, armoede en misdaad leef.

“Ek moes ʼn groep tienermeisies wat reeds babas het oor ouerskap begelei. My doel was om die meisies op te bou en in te lig, nie om te preek of te oordeel nie. Ons wou hierdie jong moeders help om verantwoordelike, ingeligte ouers te wees, en dat hulle matriek voltooi.”

Verpleërs en kenners het praatjies kom gee oor dieet, inentings, higiëne en die belangrikheid daarvan om hulself vir die toekoms toe te rus. “Ons raad en hulp moes baie prakties wees en soms moes ons help dat hierdie skoolgaande moeders se babas goeie dagsorg kry.

“Een van hierdie groeplede het vasgebyt, matriek behaal en na skool gaan studeer. Sy is nou amper gereed om as juffrou in vroeëkinderjare-ontwikkeling te begin werk – ons is baie trots op haar!

“Al is die bronne soms karig, moes ek en Izanette van Schalkwyk (stigter van Blue Bus Trust wat toegewyd opheffingswerk in Delft doen) leer om te werk met dít wat in ons hande is. Ons moes ook aanvaar dat ons nie Delft se geweld en armoede kan stuit nie. Maar vir elke jongmens wat besluit om doelgerig te begin leef, baat ʼn hele gesin daarby.”

Groepwerk in Delft, waar skeppende hande en opbouende hande sommer die gemoed ook verbeter. (Foto: Verskaf)

Toe tree Sandra af.

“Ek kan nie my lewe met doellose aktiwiteite vul nie! Ek het weer ʼn naaldwerkmasjien gekoop, dit bemeester en met groepbyeenkomste vir volwasse vroue van Delft voortgegaan. Hierdie vroue het leer brei en hekel; hulle skep nou items om teen ʼn wins te verkoop. Terwyl ons brei en gesels, ondersteun ons mekaar en maak saam planne teen alles wat hul lewensgehalte versuur.

“Deesdae is ek pal op soek na winkels met goedkoper wol! Weens die pandemie hou ons net een byeenkoms per maand; baie ondersteuning vind nou met WhatsApp plaas.

“My hart breek elke keer as ek uit ʼn omgewing terugkom waar mens en dier in armoede swaarkry.”

Iemand het hulp gesoek met vraelyste en navorsing in Prins Albert in die Klein Karoo. “Daar was kommer oor die groot getal skoolverlaters en die tekort aan opleidingsgeleenthede.

“Die resultate het ons verstom: ʼn Uiters hoë voorkoms van moedeloosheid onder jongmense, ernstige leerprobleme wat met drankmisbruik tydens swangerskap verband hou, plus 55% van alle skoolbeginners wat nooit matriek haal nie. Statistiek het gewys dat skokkend baie kinders skoolbywoning reeds op laerskool staak.”

Dié bevindinge het die aandag van groot rolspelers soos die Prins Albert-munisipaliteit en Alan Winde getrek, asook plaaslike nieregeringsorganisasies soos PACT (Prince Albert Community Trust). Daar is toe redelik baie fondse vir projekte aangebied.

“Ek móés net hierby betrokke raak; ek kon nie wegstap nie.”

Uiteindelik het Sandra en haar man Simon hul seewoonstel verkoop en ʼn huis in Prins Albert gekoop. Só kon hulle meer gereeld by die dagsorg- en kleuterskoolprojekte wat intussen geopen is, uitkom. “Ons hoofdoel is dat kinders van jongs af uit ʼn negatiewe siklus wegbreek van hooploosheid, onderprestasie en die feit dat hulle nooit selfversorgend raak nie.

“Hoewel ons nie altyd naby en in Prins Albert is nie, werk ons hard agter die skerms. Ons vergader weekliks aanlyn met die kleuterskoolhoof, ons help met befondsing en om klein jakkalsies wat gereeld opduik te hanteer.”

Hierdie vrou het ‘n hoofrol gespeel om die voorskote Prins Albert se kleuters te maak. (Foto: Verskaf)

Intussen het die Delft-groeplede oorjassies vir Prins Albert se kleuterskoolkinders gemaak.

“Daar is nooit massas geld beskikbaar nie, maar ons maak seker dat moedelose jongmense nuwe geleenthede kry en gemotiveer word om hulself ten beste te ontwikkel.”

Kleuterskoolkinders se ouers word ook aangemoedig om meer by hul kinders se vordering betrokke te raak.

Sandra werk saam met Ingrid Wolvaardt, hoof van PACT wat aktief met opvoedkundige projekte in Prins Albert se armer woonbuurte betrokke is.

“Ingrid woeker omtrént. Haar hele doel is dat jongmense goeie opleiding kry sodat hulle sinvol in die arbeidsmark kan deelneem. Hier is ongeveer 20 programme in plek waar onder meer baristas opgelei word, met ʼn gesellige koffiekroeg.

“Goeie donateurs se ondersteuning versterk ons hande,” verduidelik sy en vertel van Colesberg se Hantam Trust wat onlangs twee plekke vir opleiding in hul hotelskool geborg het. Ses maande later kon twee Prins Albert-jongmense ʼn nuwe lewe in die gasvryheidsbedryf aanpak danksy hierdie geleentheid.

“Dis my mikpunt, my droom: beurse vir minderbevoorregte kinders sodat hulle naskools kan studeer. Want elke jongmens wat ʼn nuwe loopbaan aandurf, gee vir sy maats moed en bring verbetering na hul gesinne.

“Wanneer jongmense uit ʼn benadeelde omgewing wel geld of geleenthede vir naskoolse studies kry, benodig hulle báie addisionele ondersteuning om die wye wêreld daarbuite te betree.

“So probeer ons die wêreld vir individue verbeter – tree vir tree.”

Watter wyshede het sy langs die pad geleer? “Die grootste en belangrikste les is om te besef dat dit tyd neem om mense te leer ken; dit neem tyd om vertrou en aanvaar te word. Selfondersoek is ook heeltyd noodsaaklik: Is jy werklik geïnteresseerd in die mense met wie jy ʼn pad wil stap? Moenie jou eie behoeftes volg nie, maar luister werklik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.