Treffer-dokkie ‘Devilsdorp’ kry luisterboek, podsending

(Foto: Verskaf)

Die misdaad-dokumentêr Devilsdorp is verlede Donderdag op Showmax bekendgestel en is met vyfster-resensies begroet.

Die vierdelige dokumentêre reeks ondersoek die 11 moorde wat tussen 2012 en 2016 op Krugersdorp aan die Wes-Rand plaasgevind het en bekendstaan as die Afspraak-moorde of Sataniese moorde. In dié ondersoek word die misdade teruggespoor na Cecilia Steyn en die Electus per Deus (uitverkore deur God)- kultus.

Die berugte Krugersdorp-afspraakmoorde het veral mense in die sakebedryf die skrik op die lyf gejaag met talle verkoopsagente en -konsultante wat bang was om afsprake te reël ingeval hulle in ʼn dodelike strik sou trap.

Devilsdorp deel benewens buitengewone beeldmateriaal van sogenaamde duiweluitdrywings, kerkvergaderings asook hofgetuienis en regsuitsprake, ook die verslae van die senior ondersoekbeampte, kapt. Ben Booysen, die adjunkdirekteur van openbare vervolging, Gerrit Roberts, Shane Chatzkelowitz, ’n eise-spesialis van Discovery, asook die verslaggewing van die joernalis Marizka Coetzer.

Die Cosanna-woonstelblok in Krugersdorp waar Cecilia Steyn gebly het. (Foto: Verskaf)

Die slagoffers se naastes deel hul ervarings en só ook kerklede wat die oortreders geken het. Jana Marx, ʼn joernalis en die skrywer van Afspraak met moord: In die kake van die Krugersdorp-kultus, tree op as die reeks se verteller.

David Enright is die regisseur en die reeks is vervaardig deur IdeaCandy.

Die dokumentêr, ʼn eerste vir Showmax, is bo-aan die stromingsdiens se top-20, en het ’n nuwe rekord opgestel vir die reeks op Showmax wat die meeste ure gekyk is tydens die eerste vier dae nadat dit uitgereik is.

Dié kykersgetalle skop stof in die oë van reekse soos Game of Thrones, The Real Housewives of Durban en The River.

Dit het ook heel naweek op sosiale media gegons oor Devilsdorp. Khaya Dlanga het op Twitter geskryf: “Hierdie is die wildste, malste en mees ongelooflike Suid-Afrikaanse dokumentêr wat ek al ooit gesien het.”

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het op Facebook gesê: “Devilsdorp is een van die beste misdaaddokumentêre wat ek al ooit gesien het. Daar is goeie polisiemanne ook in ons land.”

Die 11 moorde het Krugersdorp geruk. (Foto: Verskaf)

Nou het Showmax goeie nuus vir almal wat steeds probeer verwerk hoe ’n klein groepie Christene, wat probeer het om ’n voormalige satanis te help om aan die sataniese kultus te ontsnap, deel geraak het van ’n moordtog waarby ’n ma, haar twee kinders en ’n kultus met meer slagoffers as lede betrokke was.

Showmax het ook die podsending getiteld Devilsdorp: The Official Companion Podcast, aangebied deur Nicole Engelbrecht van True Crime South Africa, uitgereik.

Dit is Suid-Afrika se eerste ware misdaad-podsending wat fokus op die slagoffers. Engelbrecht is ook die verteller van die luisterboek-weergawe van Marx se boek.

Devilsdorp het my weggeblaas. Nie net het dit gedeeltes van hierdie baie komplekse saak oopgevlek wat nog nooit in die publiek genoem is nie, maar dit is op so ’n wyse gedoen dat dit die slagoffers en hulle families eer. Dit is werklik ’n wêreldklas produksie en ek is geweldig trots om daarmee geassosieer te word,” sê Engelbrecht.

“Toe Showmax my genader het om ’n meegaande podsending vir die reeks te maak, was ek natuurlik baie opgewonde, maar ek het dit ook as ’n geleentheid gesien om werklik die openbare narratiewe rondom die saak weg te stroop, om die spinnerakke van sekere afleidende elemente van die saak uit die weg te ruim en om diep in die koppe van hierdie oortreders te klim.

“As die insigte in hierdie podsending selfs een mens help om nie in so ’n situasie ingesuig te word nie, dan het iets goed darem uit hierdie hele tragedie gekom.”

Die eerste episode, Halos in Hell, kyk na hoe godsdiens as wapen aangewend is in hierdie saak. Die tweede episode, The Mind of a Killer, ondersoek die sielkunde agter kultusgroepe en kyk na hoe Cecilia Steyn in staat was om ander te manipuleer om haar vuilwerk te doen.

Die derde episode, Mother Dearest, ondersoek hoe Marinda Steyn haar kinders gemanipuleer het om te moor, en joernalis Marizka Coetzer maak haar hart oop oor haar gevoelens vir Marinda se seun, Le Roux Steyn.

In episode vier, The Aftermath, word die impak van die saak op die joernaliste en polisiebeamptes wat betrokke was bekyk, en ander sake wat moontlike skakels het met Electus per Deus word bespreek.

Luister Devilsdorp: The Official Companion Podcast op Spotify of Apple Podcasts.

Kyk hier na die lokprent van Devilsdorp:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
ES

Daar is darem maar bose mense daar buite… ek gaan vanaand na die reeks begin kyk.

Bokkiebek

Excellent….ekt dit gekyk die oomblik toe dit beskikbaar geword het…BAIE goed…

Noels244

Ek het hierdie ook dadelik gekyk toe dit beskikbaar was, genade ek was ontsteld. Dit is traumatiserend, maar jy bly vasgenael tot die einde.