Trein ontspoor: 15 mense nog vermis

Die instap- en inbelsentrum by die kantoor van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in Braamfontein. Foto: Thembelihle Mkhonza/ANA

Altesaam 19 mense is dood nadat die Shosholoza Meyl-trein verlede week in die Vrystaat ontspoor het, maar dié syfer kan nog verder styg nadat dit aan die lig gekom het dat 15 mense nog vermis word.

Daisy Daniels, woordvoerder vir Shosholoza Meyl, het gesê daar kan nog nie rekenskap gegee word nie van 15 mense wat betrokke was in die treinongeluk verlede Donderdag naby Kroonstad.

Daniels het gepraat by Umjantshi House, die instap- en inbelsentrum by die kantoor van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in Braamfontein. Dié fasiliteit is deur die departement van vervoer en Prasa op die been gebring om mense by te staan wat deur die tragiese treinongeluk geaffekteer is.

Maroela Media het vroeër berig die Shosholoza Meyl-trein het Donderdag teen 09:15 ontspoor toe dit ʼn vragmotor getref het wat die treinspoor oorgesteek het en nie betyds uit die pad kon beweeg nie. Die trein was van Port Elizabeth na Johannesburg op pad en het meer as 400 passasiers gehad.

Sipho Sithole, woordvoerder van Prasa, het gesê die 19 oorledenes se identiteit moet eers deur DNS-toetse bevestig word. Hy het gesê familielede van die oorledenes sal Kroonstad toe geneem word vir die identifikasieproses. Volgens die gesondheidsowerhede sal dié proses Dinsdag begin.

Die instapsentrum sal die beseerdes help met eise. Inligting oor die oorledenes kan ook by die sentrum verkry word. “Ons prosesseer nog wie deur die ongeluk geaffekteer is en hoe hulle geaffekteer is, ons kan nie nou veel sê oor die betaling van hospitaalrekeninge en begrafnisse nie,” het Sithole gesê.

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Onder die beseerdes is die 30-jarige Calvin Baloyi wat gesê het dinge was nog nie weer dieselfde ná die ongeluk nie. “Ek weet nie meer wat met my verstand gebeur nie. Ek is steeds geskok en ek kan nie meer konsentreer soos ek kon voor die ongeluk nie. Ek voel of ek van my kop af gaan.”

Baloyi het gesê hy is erg getraumatiseerd deur wat gebeur het. Hy het gesê hy kan steeds die skrikwekkende geluide hoor van die passasiers wat skree en die metaal wat teen mekaar slaan. Sommige mense was onder die treinwaens vasgevang toe die trein ontspoor en van die waens omgeslaan het.

Baloyi het sy arm, skouer en voet beseer. Hy het gesê Prasa het onderneem om hom te help om sy hospitaalrekeninge te betaal.

Nog ʼn passasier wat gelukkig was om die gru-ongeluk te oorleef was die 29-jarige Nozipho Hoza. “Ons het eers gedink die trein probeer stilhou want ons kon voel hoe dit stadiger ry, maar die trein was besig om [met die vragmotor] te bots. Ons het mense van agter hoor skree tot in die treinwa waarin ek was wat aan die voorkant was,” het Hoza gesê.

“Ek het probeer om my kind op te tel, maar die geruk van die trein het my oor die treinwa en tot teen die venster geslinger. Toe ek daar wakker word kon ek myself regop kry en my kind optel en aan my broer gee. My broer kon uitkom met my kind en ek het hulle gevolg. Dit is hoe ons almal ontsnap het.”

Die instapsentrum sal 24 uur per dag oop wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lena ·

Het die trein met die vragmotor gebots of het die vragmotor met die trein gebots? Elders word verskillend berig.

LB S ·

Wel, die trein kon net op die spoor bly en nie vinnig stop nie. Van wanneer af moet ‘n trein op ‘n kruising stop dat voertuie die spoor kan oorgaan? Wees nou rustig en dink hieroor.

Pieter ·

Natuurlik is dit ALTYD die voertuig wat met die trein bots ondat die trein voorrang geniet en elke spooroorgang ‘n STOP is vir voertuie. Die vragmotor het gejaag om voor die trein te kruis. Dit neem die trein minder as ‘n minuut om verby te kom,hoekom probeer mense baiemaal om die trein te klop?

Cor ·

Wie sal weet ? Elkeen maak sy eie bevinding voor die ondersoek afgehandel is. Die minister van vervoer het dan sommer op Tv verklaar die vragmotor het kanse gevat. Ek wonder was hy in die trein of voor in die Diesel lokomotiewe saam met die trein drywer en sy assistent. Ek wonder ook wat is die ras van die vragmotor bestuurder as die minister sommer klaar n bevinding gemaak het nog voordat n ondersoek op die terrein begin was en afgehandel is.

Lena ·

Baie goeie vraag, Pieter. Maar iemand het in kommentaar gesê dat dit by daardie kruising selfs uit ‘n vragmotor moeilik is om te sien of ‘n trein aankom; dat bestuurders daar moet UITKLIM en gaan kyk of ‘n trein aankom voordat hulle ry! As dít waar is, kan mens alles verstaan. Hoe ookal, daardie vragmotorbestuurder voel in hierdie dae sekerlik verby ellendig. Ons kan vele vingers na hom wys, maar ALMAL maak een of ander tyd ‘n fout. Syne was ‘n baie groot fout met noodlottige gevolge. Môre kan dit dalk in ‘n ander situasie met my of jou gebeur… Glo nie daardie man het daardie oggend toe hy opgestaan het kon droom dat hy op daardie dag verantwoordelik sou wees vir baie mense se dood nie. Mag hy ook genade ontvang, soos ook almal wat geliefdes verloor het. Dit blyk nou uit die getuienis van die treindrywer en sy assistent dat die trein met die sleepwa van die vragmotor gebots het. En die feite maak wel saak, Snoepie, júís omdat daar mense dood is…dat ons almal groot lesse uit hierdie ramp kan leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.