Trein ontspoor buite Pretoria

Foto: Verskaf

Metrorail-treindienste in Gauteng sal vanoggend ontwrig wees nadat ʼn trein Woensdagaand noord van Pretoria ontspoor het.

Die treindiens het in ʼn verklaring gesê die passasierstrein was vanaf Eerste Fabrieke na Mabopane onderweg toe dit omstreeks 20:45 by Hercules ontspoor het. Daar was vyf passasiers op die trein ten tyde van die ongeluk, maar geen beserings is aangemeld nie.

Dit is nie in dié stadium bekend wat veroorsaak het dat die trein ontspoor nie.

“Geen treine sal tussen Hercules en Capital Park beskikbaar wees vir Donderdagoggend se spitstyd nie, aangesien die ongelukstoneel steeds opgeruim word,” lui die verklaring.

Bussies tussen Hercules en Capital Park word as alternatiewe vervoer vir pendelaars met geldige Metrorail-kaartjies voorsien. Pendelaars kan by een van dié stasies ʼn oorgangstrein neem na die stasie waar hulle wil wees.

  • Treine na Pretoria en Belle Ombre vanaf Mabopane en De Wildt word nie geraak nie.
  • Treine vanaf Mabopane via Capital Park sal by Belle Ombre omdraai en pendelaars sal van daar ʼn bussie na Capital Park moet neem.
  • Daar sal nie ʼn trein tussen Hercules en Koedoespoort beskikbaar wees nie. Slegs een trein sal tussen Capital Park en Koedoespoort loop.
  • Bussies tussen Hercules en Capital Park is beskikbaar.

Metrorail se bestuur het om verskoning gevra vir die ongerief en pendelaars verseker sy tegniese spanne werk onverpoosd om die diens so gou as moontlik ten volle te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Drywer het probeer om ‘n slag gat te vermy of uitgeswaai vir ‘n ander trein wat oor ‘n sperstreep gery het …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.