Trein ontspoor: Dodetal bevestig; styg skerp

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Die polisie in Kroonstad in die Vrystaat het Sondag bevestig dat die dodetal in die Shosholoza Meyl-treinongeluk sedert die aanvanklike ondersoek skerp gestyg het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die ongeluk het altesaam 19 mense se lewe geëis. Dit volg nadat ʼn voorlopige ondersoek vasgestel het dat 12 mense in dié ongeluk dood is.

Makhele sê forensiese toetse het vasgestel dat agt mans, vyf vroue en vier kinders dood is. Volgens haar kon die liggame van twee mense nié uitgeken word nie omdat hulle heeltemal verbrand het.

“Die nadoodse ondersoek duur steeds voort. Forensiese deskundiges van Pretoria gaan met die ondersoek help om die liggame te identifiseer. [Die deskundiges] sal met die familie in verbinding wees om hulle in te lig oor ʼn sentrale punt waar die DNS-toetse gedoen sal word.”

Prasa het intussen ʼn 24 uur-hulpnoodlyn tot stand gebring waar families kan navraag doen oor hul geliefdes wat op die trein was. Vir meer inligting, skakel dié noodlyn by 011 544 9623.

Maroela Media het vroeër berig die trein het omstreeks 09:15 ontspoor toe dit ʼn vragmotor getref het wat die treinspoor oorgesteek het en nie betyds uit die pad kon beweeg nie. Die trein was van Port Elizabeth na Johannesburg op pad met 429 passasiers aan boord.

Shosholoza Meyl het gesê sewe treinwaens het ontspoor waarvan een ʼn kragwa is wat help met kragopwekking vir die trein. “Die kragwa het aan die brand geslaan en die vlamme het na die volgende wa versprei. Brandbestryders is op die toneel,” lui die verklaring.

Daar word verneem dat die meeste beseerdes in die voorste waens van die trein was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

snoefie ·

alle simpatie aan die geliefdes, familie en vriende van die oorledenes. sterkte.

Muffin ·

Ja Snoefie stem saam. Dit is baie sleg en nog die tyd van die jaar wat net begin. Een menslike fout.
Wonder wat het geword van die vragmotor bestuurder. Miljoene rande se skade afgesien van die oorledenis en beseerdes wat geld nie kan koop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.