Trein ontspoor: Nog oorskot gevind

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het aangekondig dat daar nog menslike oorskot gevind is na verlede maand se dodelike treinongeluk buite Kroonstad in die Vrystaat.

Nagenoeg 20 mense is dood en talle beseer toe ʼn Shosholoza Meyl-trein op 4 Januarie teen ʼn vragmotor en ʼn voertuig by die Jeneva Level-aansluiting tussen Hennenman en Kroonstad gebots het.

Volgens Prasa was hulle bekommerd aangesien net 19 van die 21 lyke tot dusver positief deur DNS-toetse geëien kon word terwyl vyf families te kenne gegee het dat hul geliefdes ook op die trein was en nog nie gevind is nie.

“Ons kon nie verstaan hoekom ons nie die ander drie liggame kon vind nie, aangesien vyf families nog geliefdes vermis,” het dr. Sipho Sithole van Prasa gesê. Die bykomende oorskot is gevind tydens die finale stadiums van die opruimingsoperasie. Prasa het nie bekend gemaak presies waar die oorskot gevind is nie.

Sithole het gesê hulle is nou in kontak met die polisie en forensiese ondersoekers om vas te stel wat presies kon gebeur het. Hy het gesê verdere DNS-toetse moet nou gedoen word om te bepaal of die bykomende oorskot wat gevind is moontlik dié van ander persone is of dié van die oorledenes wat reeds geïdentifiseer is.

“Ons het reeds die families wat geraak word in kennis gestel dat die oorskot wat nou gevind is moontlik dié is van hul geliefdes wat steeds vermis word.” Sithole het gesê meer inligting sal weldra bekend gemaak word.

Maroela Media het vroeër berig die trein het teen 09:15 ontspoor toe dit ʼn vragmotor getref het wat die treinspoor oorgesteek het. Dit kon dus nie betyds uit die pad beweeg nie. Die trein was van Port Elizabeth na Johannesburg op pad met 429 passasiers aan boord.

Shosholoza Meyl het gesê sewe treinwaens het ontspoor waarvan een ʼn kragwa is wat help met kragopwekking vir die trein. Die kragwa het aan die brand geslaan en die vlamme het na die volgende wa versprei.

Lees alle vorige berigte oor die Shosholoza Meyl op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PASSASIERSLYS ·

HOE OP DEESKE AARDE HET JULLE NIE ‘N PASSASIERSLYS NIE? Asb mense as julle nie ‘n passasierslys het nie en nie eers weet WIE was op die trein nie HOE is die kaartjies verkoop en HOE het julle geweet elkeen sit op sy regte sitplek? Ek kan nie verstaan dat dit oorgesien kan word nie. Dit is presies dieselfde wanneer ‘n vliegtuig val en julle sou nie’ n CLUE he wie op die vliegtuig was nie? Is dit eties? Is dit nie selfs krimineel nie? Mag jy ‘n trein laat hardloop sonder om te weet wie die passasiers is wat daarop is? Ek praat van langafstandtreine vir die slimmes wat nou weer gaan se dat mens nie ‘n passasierslys van treine wat elke dag loop kan he nie, ek stem saam, nie vir kort afstande nie, maar wragtie vir hierdie trein wat so ver ry en jy vooraf moes bespreek moes elke mens tog ‘n SITPLEK geboek het dan nie? WEEREENS waar is die betogings? Julius ek mis jou alweer hier ook . julle gaan nie aan as mense onskuldiglik deur die nalatigheid van die regeringsamptenare gesterf het nie maar gaan maak ‘n bohaai oor ‘n groen sweater in SWEDE en ‘n skool in Vanderbijl? Ek het nie eintlik besef ons land is so in sy dinges in nie.

Francois Joubert ·

Die berigte aan die begin het gesê 450 mense was op die trein en toe heelwat later is dit 700 mense. Dit moes al ‘n indikasie gewees het dat wie ook al moes weet (PRASA) weereens ‘clueless’ was, of is dit waar die teorie inkom dat mense oppad opgetel is (sonder kaartjies natuurlik)?

bgj van der westhuizen ·

jy hoef net te kyk wie is n die bestuur alles wal uit mekaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.