Trein slaan op pad na stasie aan die brand

‘n Skermskoot uit ‘n video van die brandende treinwaens.

Twee waens van ʼn Metrorail-trein in Kaapstad het Dinsdagoggend aan die brand geslaan terwyl die trein op pad was na Simonstad.

Volgens mediaberigte het pendelaars by die Retreat-stasie vir die trein gestaan en wag toe die trein by die stasie intrek met twee waens in vlamme gehul en donker rookwolke wat daaruit borrel.

Metrorail het in ʼn verklaring bevestig dat twee treinwaens heeltemal in die brand verwoes is, terwyl nog twee waens geringe skade opgedoen het. “Voorlopige verslae dui aan dat al die passasiers aan boord die trein om 08:51 by die Retreat-stasie afgeklim het en geen beserings is aangemeld nie,” lui die verklaring.

Die hoëspanning- oorhoofse kragtoevoer is afgeskakel om die brandweer kans te gee om die vlamme te blus. Bemanningslede het ook die brandende waens van die res van die trein geskei om verdere skade aan die trein te voorkom.

Theo Layne, woordvoerder van die Kaapstadse brand-en-reddingsdienste, het aan African News Agency gesê twee brandweerwaens, een watertenkwa en een reddingsvoertuig is na die toneel ontplooi en die vlamme is teen 09:45 geblus.

Die twee uitgebrande treinwaens by die Retreat-stasie. Foto: Tracey Adams/ANA

Volgens Metrorail is die treinroete in albei rigtings gesluit, maar een van die treinspore is intussen weer heropen. “Treine na die Kaapse Vlakte stop tans by Heathfield totdat die toneel heeltemal opgeruim is.”

Metrorail het gesê dit is nie tans duidelik wat die oorsaak van die brand was of hoeveel die skade beloop nie. “Die toneel sal heeltemal opgeruim word sodra forensiese spanne hul ondersoek daar afgehandel het. Die beskadigde treinwaens sal na die depot geneem word vir nadere ondersoek en evaluering deur Prasa se ondersoekers.”

Richard Walker, streeksbestuurder van Metrorail, het bemanningslede geloof vir hul vinnige en dapper optrede om passasiers se veiligheid te verseker en die brandende treinwaens van die res van die trein te verwyder ten einde verdere skade te voorkom.

Walker het ook genoem dat daar sedert Maart vanjaar reeds 70 mense in hegtenis geneem is in verband met opsetlike saakbeskadiging wat met Prasa-infrastruktuur verband hou. Altesaam 60 van hierdie verdagtes is tans verhoorafwagtend.

Pendelaars is aangeraai om Metrorail se sosialemediaplatforms dop te hou vir die jongste inligting oor treinroetes en moontlike vertragings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

‘n Treinwa slaan nie sommer net aan die brand nie. Dit kan gebeur, of met ‘n kortsluiting of met ‘n foutiewe keelaar in ‘n wiel, maar dit neem ure waar die materiaal eers smeul, rook asook ‘n brandende reuk afgee en meestal is daar nie genoeg brandbare materiaal in ‘n treinwa om verder te brand nie. Vir twee waens wat tydens spitstyd spontaan aan die brand slaan en tussen enkele staties al in ligte laaie staan, neem heelwat meer brandbare materiaal, veral in die vorm van vuurhoutjies, petrol asook bykomende materiaal.

Dink ‘n bietjie oor wie baat ruim daarby as treine nie op hul roetes ry nie en gaan kyk dan wie se minibusse staan reeds geparkeer waar pendelaars vergeefs op treine wag.

Wolf ·

Aai, ek hoop nie daar was n arme werklose gesin wat in die trein slaaplek gesoek het binne in nie?

Casper Labuschagne ·

As dit 3:51 in ‘n rangeerwerf gebeur het, was jy korrek. Maar as dit 8:51 gebeur wat op die einde van spitstyd is en boonop op ‘n hoofroete, dan is daar iets anders aan die gang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.