Treinbotsing kon verhoed word – vakbond

Untu sê daar moes met die hand toestemming gegee word vir die trein om op die roete voort te gaan. (Foto: Untu)

Die vervoervakbond Untu sê Saterdag se botsing tussen ʼn trein van Shosholoza Meyl en waens van ʼn goederetrein van Transnet Spoorvrag buite Leeudoringstad in Noordwes, kon voorkom word.

Ses mense is in die ongeluk beseer.

Volgens lede van die vakbond het die lokomotief van die goederetrein op die R502-roete onklaar geraak. Die treindrywer moes daarna sommige van die waens losmaak om dit na veiligheid te neem voordat hy teruggekeer het om die res te gaan haal.

Na bewering het die treinbeheerkamer nie besef daar staan nog waens op die spoorlyn toe die Shosholoza Meyl-trein, van Johannesburg na Kaapstad onderweg, toestemming gekry het om op dieselfde roete voort te gaan nie. Die passasierstrein het daarna teen die waens gebots.

Untu sê Scott de Koker, een van die vakbond se raadslede, het sy kommer oor toestemming wat met die hand op dié en ander roetes gegee word, reeds op 18 Augustus onder die aandag van Portia Derby, Transnet se uitvoerende hoof, gebring.

De Koker het Derby en ander bestuurslede in ʼn e-pos gewaarsku dat die bestuur van dié staatsbeheerde onderneming nie aan die regulasies oor die bedryf van treine voldoen nie.

Die ongelukstoneel naby Leeudoringstad in Noordwes. (Foto: Untu)

Volgens De Koker se e-pos het Transnet se bestuur “noodmaatreëls” op dié en ander roetes ingestel, maar teenstrydig met gewone bepalings, is daar onbepaald met die maatreëls volgehou.

“Ons (Untu-lede) sukkel nou al geruime tyd, maar dit kan nie so aanhou nie. Indien ʼn werker in ʼn ongeluk betrokke is, word hulle aangekla en gestraf asof die treinbeheerkamer ten volle funksioneel was.”

De Koker het op 21 Augustus nóg ʼn brief geskryf om te vra waarom daar geen reaksie op Untu se vorige skrywe was nie.

Untu sê Derby het haar bestuurders daarna aangesê om die probleme te pak, maar van die belofte dat dringende aandag aan die kwessies gegee gaan word, het dadels gekom.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, sê die meeste treinongelukke die afgelope vyf jaar was weens toestemming wat met die hand gegee is, asook weens vandalisme en diefstal van spoorinfrastruktuur.

Untu en Fedusa het in Julie verlede jaar ʼn memorandum aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig waarin onder meer geëis word dat die weermag ontplooi word om die land se 37 000 km spoorlyne teen georganiseerde misdaadsindikate te help beskerm.

Untu het terselfdertyd gevra om eerder onder die departement van openbare ondernemings te val – pleks van die departement van vervoer – omdat die spoorwegveiligheidsreguleerder én Prasa aan die minister van vervoer, Fikile Mbablula, rapporteer.

“Die spoorwegveiligheidsreguleerder, as die waghond oor spoorveiligheid, het ʼn verantwoordelikheid om teen spooroperateurs op te tree wat onbepaald aanhou om toestemming met die hand te gee. Die reguleerder versuim sy plig,” het Harris gesê.

Die spoorwegveiligheidsreguleerder moet nog ʼn formele ondersoek na die oorsaak van die ongeluk afhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

In die goeie ou dae moes jy 8 jaar diens hê voordat jy ‘n treindrywer kon word. Dan nog 2 jaar voordat jy aan ‘n passasiers trein kon vat. Deesdae is dit mos 6 maande dan ry jy. Duh! ( Oud drywer )

Sobymykoolkop ·

Pierre, dis nie jongmanne wat op die passasierstrein was nie, inteendeel, 2 van die bestes. Die geskrewe magtiging wat hy ontvang het sou bepaal dat die trajek skoon is tot by die sinjaal waarheen hy gemagtig is. Dit BEHOORT jy mos te weet, Dit was nag, so maak maar self die somme, die treinverkeerbeampte wat die magtiging uitgereik het moes seker gemaak het dat die trein waarteen gebots is VOLLEDIG binne die ruimtemerke van die stasie was.

Pierre ·

Jy is moelik nê. Ek praat van die nuwe generasie wat nou oorvat (oorgevat het ) En dankie – ek ken my reëls. Het drywers opgelei vir jare.

Hennie J ·

Beslis nie die passasierstrein drywer se nalatigheid nie. Maar hieruit moet ook n les geleer word. Moenie snags op die spoorlyn speel nie. Die getransformeerde kader hou nie daarvan om na sononder besig te lyk nie.

Jakes ·

Hierdie ongelukke kan toegeskryf word aan onbevoegdheid van drywers en sinjaalbestuur. Deesdae praat drywers per selfoon met treinbeheer en andersom. Geen wonder daar is soveel probleme.

Sobymykoolkop ·

Jy het geen idee waarvan jy praat nie, elke lokomotief is toegerus met ń radio vir kommunikasie tussen treine en personeel van die betrokke treinverkeer kantoor. Die 2 drywers van die passasierstrein het elkeen meer as 30 jaar diens OP treine, onbevoeg? Jy stel net die feit dat jy NIKS van treine weet ten toon, swyg as jy nie weet, of VRA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.