Treindiens weer ontwrig na nóg ʼn trein ontspoor

Argieffoto

Die hervatting van die Passasierspooragentskap (Prasa) se treindiens op die berugte sentrale lyn by Kaapstad kon nie Donderdagoggend soos beplan voortgaan nie omdat nóg ʼn trein op dié spoorlyn ontspoor het.

Die treindiens is langer as ʼn week gestaak weens veiligheidskwessies. Dit volg nadat ʼn gewapende veiligheidswag verlede Maandag op die platform van die Chris Hani-stasie geskiet is.

Die United National Transport Union (Untu) het gesê ʼn leë trein met ʼn masjinis, ʼn metro-veiligheidswag en ʼn afdelingsbestuurder is vroeg vanoggend uit om ʼn finale inspeksie te doen om na te gaan of alles in orde is voor die treindiens vanoggend hervat sou word.

“Dié trein het net ná 04:00 tussen die Netreg- en die Heideveld-stasie ontspoor. Niemand is beseer nie, maar die trein is erg beskadig,” het Untu gesê.

Steve Harris, Untu se algemene sekretaris, het gesê die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) moet nog die oorsaak van die ontsporing ondersoek. Daar is wel aanduidings dat dit weens die afwesigheid van spoorverbindings veroorsaak is wat glo gesteel is.

Harris het gesê die sentrale spoorweglyn is weereens “weens die vandalisme van infrastruktuur” uitgestel.

Dié voorval volg ná nog ʼn Prasa-trein die afgelope naweek in Germiston ontspoor het omdat die spoorverbindings ook gesteel is.

ʼn Derde trein het verlede Dinsdag by die Geldenhuys-stasie in Germiston ontspoor nadat die trein per hand goedgekeur moes word weens kabeldiefstal. Meer as 200 passasiers is beseer.

“Spoorweë, ongeag of hulle aan Prasa of Transnet behoort, is nasionale bates en ons kan nie terugsit en toelaat dat misdadigers die goedkoopste vervoer van die armstes van die armes steel nie. Prasa en Transnet is in staatsbesit en word deur belastingbetalers gefinansier,” het Harris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Weekliks is daar nou treine wat bots of ontspoor …Prasa doen ASB julle werk reg !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.