Metrorail sê die spoorlyn tussen Mountain View en Pretoria-Noord sal betyds oopgestel word vir Dinsdagmiddag se spitsverkeer.
Die lyn was gesluit sedert die treinongeluk by die Mountain View-stasie op Dinsdag 8 Januarie toe drie pendelaars dood en meer as 200 beseer is nadat twee passasiertreine gebots het.
Die Metrorail-treine was op dieselfde spoorlyn uit Mabopane se rigting na Pretoria se middestad onderweg toe die een van agter in die ander een vasgery het. Die oorsaak van die botsing word nog ondersoek.
Lillian Mofokeng, Gautengse Metrorail-woordvoerder, sê hul tegnici het hard gewerk om die wrakstukke te verwyder en al die nodige toetse uit te voer voor die lyn opnuut vir spoorverkeer oopgestel kon word.
Treine van Mabopane en De Wildt kan nou weer tot by Bosmanstasie ry.
Pendelaars het steen en been gekla vandat die treindiens deur die ongeluk ontwrig is. “Mountain View moes nou al oop gewees het,” het ʼn pendelaar ʼn week gelede op Facebook geskryf, “maar dis nie maklik om R20 miljoen te kry om die gebied te herstel nie, tensy hulle soos die SAL geld leen.”