Treindrywer aangeval toe hy pendelaars wou beskerm

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Francois Gouws, ʼn treindrywer, is twee keer in sy linkerhand met ʼn skerp voorwerp gesteek nadat hy vroulike pendelaars van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) wou beskerm.

Die United National Transport Union (Untu) het Dinsdag gesê Gouws, een van sy lede, is deur rowers aangeval terwyl hy by ʼn rooi sinjaal tussen Durban- en Berea-stasie stilgehou het.

Gouws het opgemerk dat pendelaars aangeval word en het na hulle toe gehardloop om hulle te help. “Die rowers het my twee keer in my linkerhand met ʼn mes gesteek. Ek het baie erge pyn,” het Gouws aan Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, gesê.

Gouws is na die aanval na die St Augustine’s-hospitaal geneem, waar dokters gesê het hulle is bekommerd dat van sy senuwees beskadig is.

“Ek is baie getraumatiseerd. Ons weet altyd dit is gevaarlik en hierdie voorvalle gebeur, maar niks kan jou voorberei vir die gevoel wanneer dit met jou gebeur nie,” het Gouws gesê.

Die aanval kom ná Metrorail na bewering aan Times Live gesê het stappe word gedoen om die spoorlyne te beveilig teen onwettige toegang deur ʼn muur op te rig wat R68 miljoen sal kos.

Die muur sal opgerig word in plekke waar vandalisme gereeld voorkom, soos die Netreg-stasie in die Wes-Kaap. Untu het gesê een van hul treindrywers, Piet Botha, is by hierdie stasie in Julie verlede jaar doodgeskiet.

Untu het in Maart vanjaar ʼn aansoek gebring in die Wes-Kaapse hooggeregshof vir ʼn hofbevel om Prasa te dwing om op te tree kragtens hul grondwetlike plig om sy werknemers en pendelaars te beskerm.

“Prasa staan die aansoek teen, en sê hulle doen alles in hul vermoë om pendelaars en werknemers te beskerm, maar hulle kan net soveel doen. Prasa plaas die plig in die hande van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat ʼn grondwetlike plig het om misdaad te voorkom en die publiek te beskerm,” het Untu bygevoeg.

Die aansoek is nog nie aangehoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ja, en tree ons polisie op, word hulle deur die media vertrap! !!.

Wie? ·

Wie? Die SAPD? Gee vir elke treindrywer ‘n vuurwapen om homself te beskerm.

Marinda ·

Baie jammer vir die trein drywer. Hoop jou hand genees ten volle. Baie dapper van jou om die passassiers te probeer beskerm van die boewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.