Treindrywer kry berading ná tweede aanval by werkplek

Argieffoto.

Argieffoto.

Joepie (JD) Joubert, die metro-treindrywer van Kaapstad wat verlede Vrydag ʼn vermeende rower by sy werkplek doodgeskiet het, is met siekverlof totdat hy aan die einde van die maand aftree.

Maroela Media het vroeër berig Joubert het in die vroeë oggendure ʼn man doodgeskiet toe hy homself tydens ʼn beweerde rooftog verdedig het. Hy is omstreek 02:50 deur vier verdagtes by die Kraaifontein-treinstasie aangeval toe hy hom wou aanmeld vir werk.

“Die slagoffer het ʼn skoot met sy gelisensieerde vuurwapen afgevuur en ʼn 26-jarige man noodlottig gewond,” het lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, bevestig. Die ander drie verdagtes het weggehardloop.

Dit was die tweede keer in ʼn kort tydperk dat Joubert by dié stasie aangeval is.

Steve Harris, hoofsekretaris van United National Transport Union (Untu) van wie Joubert sedert 1975 ʼn lid is, het Vrydag gesê die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) doen alles in sy vermoë om Joubert by te staan.

“Joubert het aan ons gesê hy en sy familie kan nie beskryf hoe dankbaar hulle is vir die ongelooflike ondersteuning en bystand wat hulle van Prasa ontvang nie,” het Harris gesê.

Joubert het gesê dit is ʼn moeilike tyd vir hom en sy gesin. “Prasa het my bygestaan om berading te ontvang om die twee traumatiese aanvalle te verwerk,” het Joubert gesê.

Hy is tans met siekverlof totdat hy op 30 September aftree. Hy word op 2 Oktober 60 jaar oud.

Volgens Harris het Prasa die jongste aanval op Joubert as ʼn besering aan diens aangeteken.

“Joubert was skaars vier dae terug by die werk ná sy eerste aanval op 26 Julie, ook by die Kraaifontein-stasie. Drie mans het hom oorweldig, erg aangerand en beroof. Hy was toe ʼn maand lank met siekverlof. Dié aanval het Joubert se gesondheid so aangetas dat hy ná 42 jaar diens by Prasa bedank het.”

Harris het gesê hoewel Untu dankbaar is dat Prasa vir Joubert ondersteun, kon die trauma verhoed gewees het as Prasa ag geslaan het op die vakbond se versoek om veiligheidsmaatreëls vir hul werknemers op te skerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Die laaste paragraaf som dit op! Daar kan nie effektiewe , beheerde cctv en sekuriteits wagte aangestel word vir die arme pendelaars nie, want Lucky moet in n tweede Nkandla gaan woon, na hy nege miljoen op 40 toiletsitplekke afteken en meer..(ek hoop dit sit darem lekker).

Waarheid seëvier ·

Pynlik. Jopie, sterkte om sielle rus en vrede ontwil, kan dit van nou af nét beter gaan, as een klein deurtjie toegaan Dàn maak Geloof groter deur vir jou oop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.