Treindrywer skiet aanvaller dood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

JD Joubert (60), ʼn Metro-treindrywer van Kaapstad wat aan die einde van die maand uittree, het Vrydag in die vroeë oggendure ʼn man doodgeskiet toe hy homself tydens ʼn beweerde rooftog verdedig het.

Steve Harris, hoofsekretaris van United National Transport Union (Untu), het gesê Joubert, wat sedert 1975 ʼn lid van die vakbond is, is omstreeks 02:50 naby die Kraaifontein-treinstasie aangeval toe hy wou aanmeld vir werk.

Volgens Harris het Joubert in noodweer opgetree en een van die aanvallers noodlottig gewond. Die ander aanvallers het weggehardloop.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn man is deur vier verdagtes aangeval wat hom glo wou beroof.

“Die slagoffer het ʼn skoot met sy gelisensieerde vuurwapen afgevuur en ʼn 26-jarige man noodlottig gewond,” het Traut gesê. “Die ander drie verdagtes het weggehardloop en is steeds soek.”

Traut het gesê die voorval word ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Harris het gesê dit was die tweede keer in ʼn maand dat Joubert by die werk aangeval is. “Op 2 Augustus het Untu geëis dat opgeleide gewapende wagte treinbemanning vergesel om hulle te beskerm weens die vorige aanval op Joubert. Die eerste aanval het Joubert se gesondheid so aangetas dat hy na 42 jaar diens by Prasa [Passasierspooragentskap van Suid-Afrika]  bedank het.  Sy dienstermyn kom op 30 September tot ʼn einde.”

Joubert se aanval kom ʼn dag nadat ʼn 51-jarige vrou omstreeks 05:00 naby die Haven-nagskuiling in Eikendal doodgesteek is toe sy op pad was na die treinstasie.

Volgens Harris het Untu vir die afgelope twee maande herhaaldelik by die Prasa en die minister van vervoer, Dipuo Peters, gepleit om drastiese stappe om die veiligheid van hul lede te verseker voordat meer mense hul lewens verloor, maar dit is glo geïgnoreer. Hy het gesê die emosies onder Untu se lede loop hoog.

“Dit is nie vir ons moontlik om hulle te kalmeer nie. Daar was al drie sinnelose moorde in ʼn maand. Die treindrywer Pieter (Barend) Botha is twee keer in die kop geskiet by die Netreg-stasie toe hy op ʼn trein gewag het, terwyl ʼn 33-jarige gewapende wag van Comwezi Security in die kop geskiet is ná twee gewapende mans hom op die spoorlyn tussen Heideveld en Nyanga naby die Thambo-nedersetting oorval het. Hy was besig om die spoorlyn te patrolleer. Hoeveel meer mense moet sterf voordat Prasa en die regering gaan optree,” het Harris gevra.

Hy het gesê Untu sal aan Joubert en sy familie alle moontlike ondersteuning bied in die moeilike tyd.

Maroela Media het navraag oor dié aangeleentheid by Prasa gedoen en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

jaco ·

n wit treindrywer is vermoor en n wit treindrywer is aangeval, so dis net logies dat die swart minister van vervoer niks vir beter beveiliging sal doen nie. Bedankings en vroee aftrede van wit werknemers weens swak veiligheid en selfs moord op wit werknemers is alles in orde, want die doelstellings van transformasie en regstellende aksie word so bereik.

Lorette ·

Dié betrokke minister hou absoluut niks van “lily whites” nie. Diegene wat in haar afdeling werksaam was voor sy minister geword het, sal dit kan bevestig!

PJ ·

Kan Untu vir ons se hoekom die sestig jarige man moet bedank om n lewe te voer instede van op pensioen gaan. Hoekom moet hy voordele verloor omdat Prasa te sleg is om sy veiligheid te verdeker. Dit lyk nie vir my of Untu volgens hierdie berig in die beste van die lid optree nie. Hy het sy lewe vir Prasa gegee tot op sy ou dag help hom nou om op sy ou dag gerieflik te kan leef en n waardigge oudag te geniet en rus. Hoop iemand van Untu lees die kommetaar of dat Maroela n opvolg doen.

Cherokee ·

Ag nee man, maak skoon jou bril. Hy tree af aan die einde van die maand.

johann smith ·

ek was vir baie jare n treindrywer sedert 1974 tot en met 1994 en selfs in die ergste dae van die struggle is daar nooit n drywer aangeval nie, maar nou gaan dinge vinnig agteruit en daar word niks aan gedoen nie

Wat-ek-lees ·

Maroela laat weet ons indien julle ooit ‘n antwoord gaan kry van Prasa.

Ben Prinsloo ·

Die derde berig wat ek oopmaak en ek lees van afbrekende kommentaar deur die lesers. Ag nee laat ons die daad veroordeel en nie van ons eie mense met ons skerp tonge nie. Almal wat op die groep skryf het nie dieselfde gawes nie en nou word hulle daaroor gekritiseer. Dit is nie mooi nie.

KarooKlong ·

Vat so robbieste. Daai weghardlopers gaan vir ‘n hele ruk van die spore af bly.

SNEL ·

Ai, hoe lanklaas het ek daai “robbieste” woord gehoor. My Ouma het nooit n slegte woord vir enige een gehad nie, maar as sy gesê; “so n robbies”, dan weet jy, dis n al lankal se vrot appel waarvan sy nou daar praat, waaraan geen salf te smeer is nie. Net een woord bring nou so baie heimwee en herinneringe terug.

Vreeslik wat met die Joubert man gebeur het. Hy was baie dapper, maar ek dink so ding vat erg aan n mens. Ek hoop hulle hou hom nou nie vas tot einde Sept nie, en laat hom nou al afgaan en rus. Hy verdien dit, die skok moet erg wees. Gee hom nou al sy pensioentyd, laat hom gaan en gaan rus en tyd by sy familie deurbring.

Manna ·

Van my vriende werk by Prasa. Ek wonder of mense ‘n idee het hoe hierdie werknemers elke dag getramatuseer word deur dreigemente deur passasiers. Hulle word elke dag daaraan bloot gestel en van hulle was al beroof nadat hulle met messe gedreig is. En nou praat regering nog daarvan om misdadigers in tronke ‘n salaris te betaal en geld as hulle uit tronk kom. Dan wonder ons hoekom dit so gaan. Kan jy dit oorvertel!

SNEL ·

Ag jammer tog JP Potgieter, hy tree toe nie af nie en het BEDANK. Punt is hy hou op werk! Gelukkig het ek kommentaar gelewe na aanleiding van die berig en nie net foute uitgewys nie…want so maak ons almal mos maar foute of hoe sê ek. Lees jou kort sinnetjie weer stadig deur.

Annelene ·

Transnet amptenare kan werk tot 63, maak kan aftree op 60. As ek reg onthou is daar n tyd gelede n swart vroue drywer, wat aan Pyramid naby Pretoria verbonde was, ook in die nag vermoor terwyl sy vir n sinjaal (n groen lig) gewag het. Dit is skandelik.

Gavin ·

Mag Mnr Joubert in Vrede rus. Sterkte vir sy gesin.
Hoekom sal PRASA, die Regering of “min” peters, omgee oor die mense se veiligheid. Hulle het dan persoonlikke veiligheids wagte met al die bedrag en korrupsie geld wat hulle maak.
Daar is noe geld om sekuriteit vir die pseroneel nie. Dan sal hulle nie genoeg vir hulle self he nie.

Kobus 4e ·

Gavin, lees die berig weer. Mr Joubert is nie dood nie, hy het n boef wat hom wou roof dood geskiet. Mag die boef in vrede rus, en sterkte vir sy mense.

Cherokee ·

Soos jy sê Ben Prinsloo….. lees jy nou maar wat almal kwytraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.