Treindrywer vermoor: Untu eis lewensvonnisse

Pieter (Piet) Botha (Foto verskaf)

Die United National Transport Union (Untu) het Vrydag die hooggeregshof in Kaapstad versoek om Jathiem Hamid en Dorian Diedericks, die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op Pieter Barend Botha (46), lewenslank tronk toe te stuur.

Hamid en Diedericks is Woensdag skuldig bevind aan die moord op Botha. Botha, ʼn Metrorail-treindrywer, is op 11 Julie 2016 by die Netreg-stasie in die Wes-Kaap beroof en vermoor. Hy is twee keer geskiet. Hamid en Diedericks is ook skuldig bevind op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die derde beskuldigde, ʼn minderjarige wat nie geïdentifiseer mag word nie, is op alle aanklagte vrygespreek. Die vierde beskuldigde, Cedric Andrews, is net op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.

“Die hof moet ʼn voorbeeld van hierdie bendelede maak en ʼn duidelike boodskap uitstuur dat aanvalle op werknemers van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) nie langer geduld sal word nie,” het Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, gesê.

Harris sê die “sinnelose” moord op Botha is een van tientalle ander moorde en aanvalle, intimidasie, ontvoering en roof op Prasa-werknemers. “Genoeg is genoeg,” het hy laat hoor.

Die hof het vroeër bevind dat Botha twee sakke by hom gehad het wat die beskuldigdes by hom gesteel het. Hamid het ʼn vuurwapen by hom gehad. Nadat Botha geskiet is, het die beskuldigdes van die toneel gevlug met sy besittings, en die vuurwapen na Andrews se huis geneem en dit daar weggesteek. Die polisie het op 12 Julie 2016 op die vuurwapen beslag gelê by Andrews se huis.

Untu het destyds gesê Botha was besig met ʼn opknappingskursus op die sentrale lyn en het vir ʼn trein gewag nadat hy van ʼn ander trein afgeklim het toe hy vermoor is.

Hamid, Diedericks en die minderjarige is almal lede van die Young Dixie Boys-bende. Andrews is ʼn vriend van die drie en hulle het gereeld sy huis besoek. Voorvonnisverrigtinge begin op 19 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

….net skuldig bevind op aanklag van besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Dat daardie vuurwapen as moordtuig gebruik is word nie in ag geneem nie. As hy nie daardie onwettige vuurwapen gehad het nie, was dinge dalk anders. ‘Die hof het bevind…’
die hof behoort wakker te word en alles dìt in ag neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.