Treine brand terwyl Prasa planne maak

Twee treine is vandag op die Kaapse stasie aan die brand gesteek terwyl Prasa vir LP’s oor hul planne ingelig het om brandstigting op trein hok te slaan. Foto: Armand Hough/ANA

Donker rookwolke het Dinsdagmiddag by die Kaapse treinstasie uitgeborrel terwyl die bestuur en direksie van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) parlementslede in ʼn nabygeleë hotel ingelig het oor die vlaag brandstigtings wat treindienste gereeld lamlê.

Terwyl die Prasa-span LP’s op die hoogte gebring het, het Dikeledi Magadzi, voorsitter van die parlementêre komitee oor vervoer, vir Blade Nzimande, die minster van vervoer – wat ook die sessie bygewoon het – in kennis gestel dat nog ʼn brand op ʼn trein in die Kaapse stasie gestig is.

Khanyisile Kweyama, Prasa-raadsvoorsitter, het aan LP’s gesê die rede waarom sy “omgekrap” lyk, is omdat sy pas berig ontvang het dat “platforms 16 en 17 aan die brand is”.

Tydens dieselfde sessie het Prasa bekendgemaak sy skade weens brandstigting op Metrorail-treine die afgelope drie jaar beloop R636 miljoen.

Sibusiso Sithole, Prasa se uitvoerende hoof, het gesê 71% van die aanvalle het in die Wes-Kaap voorgekom. Die verliese in dié provinsie bedra meer as R450 miljoen.

Hy het gesê die oorsaak van brande op treine is “veelvuldig” en kort ʼn “veelsydige benadering”. Volgens hom word verskeie strategieë in werking gestel.

“Ons is nou op ʼn vlak waar bewys van konsep vir ʼn projek om die installering van kameras en sensors op treine te ondersoek, goed verloop,” het Sithole gesê. “Dit sal ons regtig help om vas te stel wie die oortreders is.”

Prasa het gesê hulle werk saam met die polisie en intelligensieagentskappe om te bepaal waarom treine aan die brand gesteek word en hoe om die brandstigting te verhoed.

Die agentskap oorweeg dit ook om vlambare sitplekke uit treine te verwyder. “Party van die sitplekke kan binne ʼn minuut brand,” het Sithole gesê; “dus kan die hele trein in werklikheid baie gou aan die brand slaan.”

Brett Herron, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het kort nadat hy van die twee brande op die stasie in kennis gestel is, in ʼn verklaring gesê hy het Nzimande reeds meermale gevra om ʼn noodtoestand af te kondig om die treinstelsel te beskerm, maar dit val elke keer op dowe ore. “ʼn Mens kan met reg vra of die minister wag vir ʼn algehele ineenstorting van ons stedelike treindienste voordat hy sal optree.”

Hy sê Kaapse pendelaars sal weer eens ernstig geraak word weens vertragings en ontwrigtings, terwyl sommige geld sal moet bestee aan alternatiewe vervoer om ná werk tuis te kom.

Herron doen ʼn beroep op die minister om onverwyld in te gryp. “Dringende optrede word vereis. Noodfinansiering … is wat ons nou nodig het. Dit is die gepaste reaksie op die omvang en dringendheid van die krisis wat ons in die gesig staar,” het hy gesê.

Hy het gevra dat die SAPD die jongste voorval deeglik ondersoek. “Dit sal my nie verbaas nie as vanmiddag se [brandstigting] deel uitmaak van ʼn goed beplande aanslag [op Metrorail] wat ons die laaste paar jaar in Kaapstad ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Bertus ·

Wat soek treine en karre in Afrika? Wel treine het ten minste nie rubber wiele nie, maar dit stop nie die mense nie, maak die sitplekke van staal en dit sal hulle ook nie stop nie.

Francois le Cochon ·

Kaapstad se treine is in so ‘n swak toestand, Prasa behoort dit eintlik self aan die brand te steek.

Casper Labuschagne ·

Daar is net een raad, staak die treindienste totdat die brandstigters gevang is. Baie mense in die gemeenskap weet presies wie en waarom die treine aan die brand gesteek word, en die inligting sal uitkom omdat tienduisende andersins nie by die werk sal kan kom nie.

Jurianes Prins ·

Ek stem volkome saam met Mr. Labuschagne. Al word ek ook genadeel Sodat die skurke gearesteer kan word en lewenslank Robben Eiland toe verban word

Wakker Skrik ·

Kom hulle nou eers agter dat dit brandstigting is?
O my genade – ons het dit al met die eerste trein wat gebrand het – laaaaaank gelede dit al besef.
Het hulle nou eers wakker geskrik omdat hulle in denial was?
Hoeveel arrestasies was daar al? Kan mens dit op een hand tel? Of op ‘n halwe hand?

Irma ·

Siek, brand en ‘demand’ die stelselmatige manier waarop ons land en sy ekonomie op sy knieë gedwing word. Dis sooo pateties, om te dink ons deel ons mooi land met mense met so ‘n swak begrip en sulke siek optrede.

Dries ·

Ontplooi gewapende soldate al langs spoorlyne en in stasies in wes-kaap…
Tyd vir handskoene Af!

Johan ·

Wie baat daarby as treindiens ontwrig word? Die taxi bedryf!

leser ·

net soos “stir-all” plaasmoorde ignoreer, is blade dieselfde, sien ook nie treinrook raak nie

Lindie ·

Die ANC. Hul wil probeer wys hoe sleg die DA die Weskaap regret want dit is amper tyd om weer te stem.

Wouter ·

Stop treine verlies aan inkomste laer as skade
Dalk maak hulle Dan n wins

R Lombard ·

My teorie wie agter hierdie brande is as volg. Iemand wat deel was van die kurupte aankope van die treine, is uitgesluit uit die winste van die transaksie. Die wat ontvang het, bly tjoepstil omdat hulle hulself gaan inkrimineer as hulle se wie agter hierdie sabotasie sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.