Treinfabriek ‘kan tot 8 000 werkgeleenthede skep’

Pres. Cyril Ramaphosa sê hy is opgewonde oor die treinaanleg se vermoë om die werk te skep. Foto: ANA

Pres. Cyril Ramaphosa glo Suid-Afrika se nuwe hipermoderne treinvervaardigingsaanleg kan passasiersdienste en openbare vervoer help transformeer.

Hy het die amptelike bekendstelling van die vervaardigingsaanleg van R1 miljard op Dunnottar aan die Verre Oos-Rand waargeneem waar die meeste van die X’Trapolis Mega-treine vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se spoorvoertuigprojek gebou sal word. Die aanvanklike projek bestaan uit 580 pendeltreine van altesaam 3 480 treinwaens.

“Dis ʼn wonderlike oomblik vir die ontwikkeling van die passasierspoorweë in Suid-Afrika sowel as die uitbreiding van ons ekonomiese nywerheidsvermoë,” het Ramaphosa gesê. “Dié fabriek, as ʼn wesentlike deel van die regering se projek om spoorvoertuie te vernuwe, sal die deurslag gee om die pendelspoordienste en openbare vervoer in die algemeen te transformeer.”

Die president meen die aanleg getuig van die regering se vasbeslotenheid om passasiersdienste se vermoë te ontwikkel om tot ekonomiese groei en maatskaplike ontwikkeling by te dra. “Passasierspoorweë is van die kostedoeltreffendste en effektiefste maniere om mense met hul werkplek, hul vakansiebestemming en hul vriende en familie te verbind.”

Hy sê ná dekades van onvoldoende belegging in nuwe treine vir passasiersdienste, lui dié projek ʼn belangrike nuwe era in wat die modernisering van die pendeltreinnetwerk betref.

“Dié fabriek sal ʼn enorme uitwerking hê op openbare vervoer asook op die ontwikkeling van Suid-Afrika se nywerheidsvermoë. Pleks dat ons sonder meer treine invoer, het ons die geleentheid benut om in plaaslike nywerheid, vaardighede en vermoëns te belê.”

Ramaphosa het gesê die regering is vasbeslote om vervaardiging te herstel tot ʼn groeiende sektor van die ekonomie nadat dit jare lank afgeskeep is, want dit het ʼn uitstekende vermoë om werk te skep, sekondêre bedrywe te ondersteun en die land se uitvoerkapasiteit te vergroot.

Na verwagting sal die spoorvoertuigprojek meer as 8 000 direkte werkgeleenthede regdeur die Gibela Consortium se aanvoerketting skep, waarvan 1 500 in die aanleg alleen.

Aan die einde van dié projek beoog die maatskappy om 6 700 ambagslui op te gelei het, sowat 2 000 ingenieurstegnici en sowat 600 professionele ingenieurs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

alida ·

Dit is wonderlike nuus Mnr R. Ken tog nou net die tenders aan die regte mense toe. Ek hoop en vertrou dat dit sal slaag en dat die betaalstelsel vooraf vasgestel word. Die ou spoorweë voor 1994 het perfek gewerk hoekom dit vernietig is weet nugter. Ons kon lekker treinry en dit was veilig.

wielie ·

Jaaaa neee kyk kom ons sien eers — moenie jobs belowe as die fabriek nog nie staan nie! Die geld wat opsy gesit is gaan dalk vir ander luukshede behalwe treine bou en arbeiders betaal . Soos gewoonlik weer beloftes en yak yak yak maar niks gebeur nie …………..

Sean ·

Nog meer treine om af te brand en nog 8000 meer stakers Nice cr hou so aan

Ilse van vuuren ·

Wonder hoeveel het die funksie gekos. Vir my het dit gelyk of daar sommer ‘n klomp hooggeplaastes moes wees om na die president te luister. Hy maak al die regte geluide, maar weet nie hoe om dit uit te voer nie

Chris Ws ·

Die president het nog nie begin oplet in die klas nie.As hy sy onteining sonder vergoeding uitsprake omdraai en daarvan vergeet sal die landbou BAIE meer mense werk gee as tans en BAIE meer as die 8000 waarmee hy nou so spog.Die unies se “tande” MOET getrek word dan sal fabrieke en myne vroleer en baie meer weer indiens neem.Unies veroorsaak dat baie duisende werkers by die huis sit sonder ‘n inkomste.Die arbeids wetgewing is te veel VIR die werker en veroorsaak erge wantroue by internationale firmas in SA.

Ansa ·

So gegiggel tydens Ruitsending van Ramaphosa se toespraak op die TV nuus van die bekendstelling seremonie. Hy sê toe hy was in China se treinfabriek waar hulle treine maak en hy sê vir homself – Cyril, maar ons kan dit ook mos doen in SA! Foeitog – Union Carriage in Nigel het al treine gebou sedert toeka se tyd – so niks nuut nie !

Lize ·

Wat was fout met die mpy Union Carriage wat jare gelede in Dunnottar treine gebou het. Dit het werk voorsien vir baie mense, wit en swart. Dit het tot niet gegaan na 1994 soos baie dinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.