Treinongelukke: Kommer oor veiligheid van spoorweë

Joe Maswanganyi (Foto: ANA)

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het Dinsdag gesê die Nasionale Reguleerder vir Spoorwegveiligheid (RSR) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) moet hul ondersoek na die ongeluk tussen die twee Metrorail-treine versnel.

Minstens 213 mense is Dinsdagoggend beseer toe ʼn passasierstrein teen die agterkant van ʼn ander stilstaande trein gebots het by die Geldenhuys-treinstasie in Germiston aan die Oos-Rand. Metrorail het kort daarna gesê hy het ʼn ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het vroeër bevestig dat albei treine in dieselfde rigting van Springs na Johannesburg gereis het ten tyde van die voorval.

Maswanganyi het gesê Prasa moet sy planne versnel om die spoordienste in Suid-Afrika te moderniseer. ʼn Vernuwing van die tegnologie sal die veiligheid van passasiers in treine beter kan verseker as verouderde tegnologie.

“ʼn Begroting van sowat R5,6 miljard is tussen 2015 tot Januarie vanjaar opsy gesit vir die modernisering van die spoorweë aangesien ons weet dat ons spoornetwerk voorheen gekenmerk is deur jare van desinvestering deur die apartheidsregering. Kabeldiefstal bly verder ook een van die groot uitdagings wat voortgaan om ons vasberadenheid en pogings te ondermyn om ʼn veilige spoorwegnetwerk vir alle Suid-Afrikaners te bied,” het Maswanganyi gesê.

Hy het ʼn beroep op die “burgerlike samelewing” gedoen om kriminele aan die polisie uit te lewer wat die regering se pogings in die wiele ry.

Intussen het die DA ook gesê hy is “ernstig bekommerd” oor die veiligheid van spoorweë in Suid-Afrika.

Fred Nel, ʼn DA-woordvoerder in Gauteng, sê dit is totaal onaanvaarbaar dat ʼn trein op ʼn spoorweg stilstaan aangesien dit spoorwegveiligheidsreëls oortree.

“Die DA doen ʼn beroep op die Gautengse LUR vir paaie en vervoer, Ishmael Vadi, om met die nasionale departement van vervoer te skakel om ʼn ondersoek na die ongeluk van stapel te stuur en die skuldiges aanspreeklik te hou. Ons kan nie beserings en sterftes in dié ongelukke goedkeur nie aangesien dit gebeur weens treinbestuurders wat nie aan spoorwegveiligheidsreëls gehoor gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henk ·

Dit sal dalk help indien die geagte minister , sowel as die woordvoerder van die DA , dalk die moeite doen om eers agtergrond en kennis te kry voordat hulle hulle name met ‘n plank slaan. Beide het duidelik geen idee waarvan hulle praat nie. Meneer die agbare minister, vir jou informasie , die Spoorwee was tydens die “apartheids jare ” een van die bestes ter wereld, onder die ANC het dit verswak tot waar dit nou is, een van die swakstes, suiwer agv oa wanbestuur, baantjies vir boeties , regstellende aksie , die huidige vlak van onbeheersde misdaad , ens. Mnr Nel, ‘n motor het ‘n bestuurder, ‘n trein word beheer deur ‘n treindrywer , ook genoem ‘n masjinis. Hoe is dit onaanvaarbaar dat ‘n trein stilstaan aangesien dit andersins veiligheids regulasies sou oortree ? Veiligheids regulasies is juis daar om ongelukke te verhoed en sterftes te voorkom? Het jy enigsins ‘n idee waarvan jy praat ?

Wilma ·

Henk verskoon ma di oningeligtes. Al wat ek weet is dat treinongelukke soos die ni ou SA sou plaasvind want personeel was gedissiplineerd. Vandag gan werknemers kollege tu by spoornet en kry 30 persent en minder in exams. Hahaha

Francois ·

Ek is geensins n Kenner van die spoorwee nie, maar so dink dat die infrastruktuur nogal erg verouderd moet wees as die minister van die apartheid’s regering verwag het om die laaste opgradering en onderhoud te doen. Wonder wanneer was hy van plan om iets daaraan te doen? Dit is duidelik dat die geagte here nie net onkundig is in die vakgebied nie, maar n gebrek toon aan helder gesonde redenasie vermoee. Geen infrastruktuur kan vir 23 jaar sonder opgradering en onderhoud nog op datum wees nie. Dit wil voorkom of daar n grooter ondersoek nodig is na die geskiktheid van senior bestuur in SA. En as dit deur die kiesers gedoen raak, dan kry hulle waarvoor hulle gestem het, nie waar nie? So wat is die probleem, ” if you can’t beat them, join them “. Of bepaal self die toekoms, jou besluit. Ek geniet deesdae die politiek in SA want dit raak my nie meer nie, dan is kommentaar soos die , humoristies en nie so hartseer as wat dit inwerklikheid is nie. Waar is die agbare politisie wat gerispekteer kon word vir goeie leiding?
Sterkte SA!

Johannes ·

Kan iemand (Afriforum?) asb ‘n klag teen hierdie minister indien en hom dwing om in die openbaar verskoning te vra vir die blatante leuens wat hy verkondig?

Onder die s.g. “apartheids regering” is ‘n wêreldklas spoorweg stelsel ontwikkel en onderhou. Daar was nie naasteby soveel trein ongelukke soos nou onder ‘n ANC regering nie.

Hoe durf hierdie minister die vorige bedeling valslik beskuldig? Dit klink vir my na aanhitsing…

Theresa B ·

Dis maar net nog iets wat agteruit en ten gronde gaan……………………….

Griki ·

Ai heerlikheid tog. Sal die apartheidsregering tot in alle ewigheid die skuld kry vir die vrotsige ANC se swak regering? Ons land het nie mense hopelose leiers soos Maswanganyi nodig nie. Ons benodig mense wat verantwoordelik is en gekwalifiseer is om hulle werk behoorlik te doen ipv om alewig die skuld op ander te pak soos ‘n klomp stout kinders. Die ANC het “useless” gekke aangestel en al wat gebeur het was korrupsie wat die ore laat tuit. Dis net muise wat die skuld vir hulle slegtigheid op ander pak.

Hannelie Reinhardt ·

Wat anders verwag hulle as die gemors. Die geld is deur Lucky Montana en venote gevat en uitgemors in plaas van die spoorwee opgradeer. Nou wil hul kamstige wakker skrik na honderde mense beseer en doodgaan. Wat het geword van die geld wat hul moes terugbetaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.