Treinpendelaars gestrand ná kabeldiefstal

Argieffoto

Pendelaars in die noorde van Pretoria moes Maandag noodgedwonge alternatiewe vervoer gebruik toe Metrorail-treindienste tydelik onderbreek is as gevolg van kabeldiefstal en beskadigde oorhoofse kabels.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail in Gauteng, het gesê die dienste in die noordelike dele van Pretoria tussen Mabopane-Belle, Ombre-De Wildt en Pretoria-Noord is tydelik onderbreek as gevolg van kabeldiefstal by die Winternest-treinstasie en kabels wat beskadig is by die Wolmerton-stasie.

“As gevolg van die diefstal was daar geen oorhoofse kragtoevoer in die geaffekteerde gebiede nie. Mabopane en De Wildt se treine van die Pretoria-stasies draai om by Pretoria-Noord en daar is geen treine van die Mabopane- en De Wildt-stasies nie,” het Mofokeng gesê.

Goodman Matampi, Metrorail se waarnemende provinsiale bestuurder, het gesê die vandalisme en diefstal van trein-infrastruktuur het ʼn negatiewe impak op ʼn stiptelike treindiens. Hy het inwoners aangemoedig om sulke soort misdade by hul naaste polisiestasie en die veiligheidspersoneel op ie treinstasies aan te meld.

Matampi het gesê Metrorail tref alternatiewe reëlings in die vorm van busse om pendelaars van die twee geaffekteerde stasies te vervoer. Hy het bygevoeg dat slegs “lojale pendelaars met geldige kaartjies” toegelaat sal word om die busdiens te gebruik.

Matampi het bygevoeg tegniese spanne is reeds besig om die skade te ondersoek en sal binnekort met herstelwerk begin.

Hy het namens Metrorail verskoning gevra vir die ongerief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.