Treinroete na Kaapse voorstad ná twee jaar hervat

Metrorail in die Wes-Kaap. (Foto: Metrorail W/Cape/Twitter)

Metrorail sal eindelik sy treindiens tussen Kaapstad en die voorstad Bellville hervat nadat dienste op dié roete twee jaar gelede opgeskort is.

Die dienste is aanvanklik in Maart 2020 gestaak as deel van die vlak 5-afsonderingsregulasies wat in ʼn stadium ingevolge die nasionale ramptoestand gegeld het.

Die spoorwegoperateur sal vandeesweek dienste op die roete in verskeie fases herstel.

Nana Zenani, waarnemende woordvoerder van Metrorail in die Wes-Kaap, sê die eerste fase is reeds Maandag van stapel gestuur. Die treine is as ʼn proeflopie aanvanklik sonder passasiers bedryf.

“Metrorail sal sy bedrywighede verfyn en dan teen Woensdag ʼn passasiersdiens met ʼn nuwe bedryfsrooster instel,” sê sy.

Al die haltes by stasies tussen Kaapstad en Bellville sal weer gebruik word, met die uitsondering van Parowstasie wat herstelwerk benodig ná grootskaalse vandalisme.

“Ons doel is om te verseker dat al ons dienste weer hervat word en dat al die fasiliteite wat onder vandalisme deurgeloop het, weer herstel word,” sê Kaparo Molefi, waarnemende streeksbestuurder van Wes-Kaap Metrorail.

Metrorail het reeds verbeterings aangebring en opknappingswerk by drie van sy ses stasies op die noordelike treinroete, by die Tygerberg-, Vasco- en Elsiesrivierstasie, afgehandel.

Die opgraderingswerk aan die Thornton-stasie word ook binnekort afgehandel.

“Die herstelwerk aan die oorhoofse elektriese infrastruktuur is reeds voltooi en ons is gereed om oorhoofse trekkrag aan die treine te verskaf,” sê Molefi.

Die proeflopies word ook gebruik om treindrywers weer vertroud met die roete te maak.

“Metrorail sal verseker dat al die fasiliteite, sowel as spoorinfrastruktuur, op standaard is voordat die lyn ingevolge die bepalings van die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) bedryf word,” sê hy.

“Passasier- en werknemerveiligheid is die belangrikste deel van ons pogings om dienste te hervat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Dit is baie goeie nuus. Vraag is, hoelank gaan die vandale wegbly? Misdaad is tog ons nasionale sport?

Grassie ·

Ek dink die taxi-boewe gaan weer die treine sommer gou aan die brand steek.

Willem ·

“Die herstelwerk aan die oorhoofse elektriese infrastruktuur is reeds voltooi en ons is gereed om oorhoofse trekkrag aan die treine te verskaf,” sê Molefi.
Die GROOT VRAAG: IS ESKOM GEREED???

Nic ·

Dis goeie nuus vir Wes-Kaap pendelaars, maar wat van die ander metropole? Wanneer gaan diens in Pretoria hervat word, of het Prasa gekapitileer aan die taxi’s?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.