‘Trek advertensie terug,’ sê LUR oor Covid-19-hulp vir slegs swart wynboere

Dr. Ivan Meyer. Foto: Brendan Magaar/African News Agency (ANA)

Die Wes-Kaapse LUR vir landbou het ʼn plaaslike regeringsinstansie opdrag gegee om ʼn advertensie te verwyder wat Covid-19-ramphulp aan slegs swart wynboere aanbied.

Volgens dr. Ivan Meyer steun sy departement nie die rasgebaseerde advertensie wat onlangs deur die Kaapse agentskap vir volhoubare geïntegreerde ontwikkeling in die platteland (Casidra) gepubliseer is waarin ras as kwalifiserende maatstaf vir Covid-19-regeringsteun gebruik is nie.

“Die Wes-Kaapse regering verwerp rasgebaseerde Covid-19-hulp aan boere en landboubesighede.

“Met Covid-19 het dit duidelik geword dat ons boere en plaaswerkers ʼn kritieke rol speel in voedselsekerheid en humanitêre hulpverlening. Dit is ook duidelik dat die landbou die ekonomiese herstel van Suid-Afrika lei,” het Meyer gesê.

Hy het gesê dat boere en mense in die landbousektor beleidsekerheid en regeringsondersteuning sonder rasseklassifikasie nodig het.

Die advertensie is ook strydig met die beleidsposisie van die DA, wat die Wes-Kaap regeer, het Meyer gesê.

Die Casidra-advertensie.

“Daarom het ek Casidra opdrag gegee om die advertensie terug te trek en boere en die landbousektor in die Wes-Kaap om verskoning te vra.

“Ek vra ook om verskoning vir die publikasie van die advertensie deur Casidra. Die Wes-Kaapse departement van landbou verwerp die gebruik van rasgebaseerde kriteria.”

Hy het gesê sy departement is van mening dat regeringshulp aan boere op behoefte en nie op ras gegrond moet word nie.

Alle boere in Suid-Afrika moet gehelp word ongeag hul ras en volgens Meyer is sy departement verbind tot ʼn nie-rassige samelewing.

“Ons moet die bydrae van alle boere in Suid-Afrika respekteer, ongeag ras. Covid-19-ondersteuning behoort alle boere te help, want alle boere is van kritieke belang vir voedselsekerheid in Suid-Afrika,” het Meyer bygevoeg.

Pogings om Casidra vir kommentaar te kontak was onsuksesvol. Die instansie het gister vir die feesseisoen gesluit.

Die landbou-organisasie Saai het vroeër gesê hy is verstom oor die blatante rassediskriminasie met hulp wat net aan swart wynboere beloof word en veroordeel dié diskriminasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.