Trek die komberse nader – koue weer word verwag

Argieffoto (Foto: martaposemuckel, Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik oor uiterste weerstoestande wat Donderdag en Vrydag verwag word.

“Reën, erge donderstorms (met hael en sterk wind), baie koue toestande met sneeu op hoogliggende dele en berge en stormsterktewinde teen die kus word verwag,” het die Weerdiens in ʼn verklaring gesê. “Die oorsaak van die toestande is ʼn laagdrukstelsel wat oor die land sal beweeg. Die provinsies wat die ergste hierdeur geraak sal word, is die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.”

Swaar reën met ʼn moontlike risiko van kitsvloede word Donderdag oor die westelike en suidelike dele van KwaZulu-Natal verwag. Die swaarste reën word Vrydag oor die suidelike dele van die Oos-Kaap verwag.

Verwagte reën oor 24 uur periode (in mm) vir Donderdag 9 Augustus 2018 (Bron: ECMWF)

Die meeste sneeu word Donderdag en Vrydag oor die suidwestelike berge in KwaZulu-Natal en Lesotho verwag. Sneeu word ook verwag oor die berge in die noordelike en noordwestelike dele van die Oos-Kaap (insluitend Sneeuberg en Winterberge). Motoriste word gewaarsku dat bergpasse moontlik in dié dele gesluit kan word.

Koue toestande sal na verwagting van oos na noord beweeg en die grootste deel van die land sal Donderdag en Vrydag koue toestande beleef.

Verwagte sneeu oor ‘n 24 uur periode (in cm) vir Vrydag 10 Augustus 2018 (Bron: ECMWF)

Maksimum temperature (grade Celsius) vir Vrydag 10 Augustus 2018 (Bron: ECMWF)

Daar is ook ʼn moontlikheid van erge donderstorms van Donderdagmiddag oor sentraal- en die oostelike Vrystaat, wat waarskynlik na die suidelike dele van Gauteng en Mpumalanga kan beweeg. Donderstorms is ook Vrydagmiddag moontlik vir die oostelike dele van Limpopo en Mpumalanga.

Die toestande sal na verwagting teen Saterdag opklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Avra ·

Ooohooo blyk of ons sneeumanne gaan bou!
Waarom bou ons nooit sneeuvroue nie…. Wonder net

Ansie ·

Ek kan vir jou vertel hóe…maar MM gaan dit nie plaas nie. ???

Ontnugter ·

Te veel sneeu bo en te min onder. Die stelasies sal bly omval.

Daan Erasmus ·

Wat sê Peet Pienaar van dit. Is dit deel van die voorspelde patroon. Sodra dinge buite die voorspellings beweeg is daar moeilikheid op pad. Gewoonlik droogte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.