ʼn 13-jarige seun is in ʼn kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal nadat hy Dinsdag op ʼn plaas naby Stellenbosch in die Wes-Kaap in ʼn trekkerongeluk betrokke was.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het Woensdag gesê die seun het glo sy balans verloor, van die bewegende trekker afgeval en onder die sleepwa beland.
“Die sleepwa se wiele het oor albei sy bene gery. Toe paramedici by die toneel opgedaag het, het die seun langs die sleepwa gelê met erge beserings en beenbreke in albei bene,” het Meiring gesê.
“Gevorderde mediese steun is gebied en die seun is gestabiliseer waarna hy met ʼn helikopter na die hospitaal geneem is vir verdere behandeling.”
Omstandighede rondom die voorval word ondersoek.