Trekkerwerktuigkundiges ding mee in realiteitsprogram

Die “Master Mechanic”-realiteitsprogram beloof naelbyt-aksie. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaanse trekkerwerktuigkundiges gaan in ʼn nuwe realiteitsprogram die geleentheid kry om sake met Massey Ferguson (MF)-trekkers uit te spook. Die “Master Mechanic”-program word deur dié trekker- en werktuigvervaardiger aangebied en is die eerste van sy soort ter wêreld.

Drie spanne wat uit twee werktuigkundiges elk bestaan gaan kyk hoe vinnig hulle drie trekkers, wat heeltemal afgetakel is, aanmekaar kan sit en aan die gang kan kry. Daarna gaan hulle lande toe om te toets of die trekker ʼn ploeg kan sleep. Hulle sal meeding om ʼn prys van R100 000.

Die program is in ʼn skuur in die klein dorpie Kestell in die Oos-Vrystaat geskiet.

Dié realiteitsprogram is in ‘n skuur in Kestell verfilm. (Foto: YouTube-skermgreep)

“Master Mechanic” bestaan uit ʼn reeks van drie kort episodes. Die eerste een sal op 3 November om 18:30 op YouTube en Facebook gelaai word, met die res van die episodes wat in die daaropvolgende weke sal volg.

Werktuigkundiges van die nasionale Massey Ferguson-handelaarsnetwerk, as deel van die AGCO-groep, is genooi om in te skryf.

“Die reaksie op die uitnodiging om in te skryf het gewys hoe gretig die tegnici was om hul beste voetjie voor te sit. Deelnemers moes ʼn twee minuut oudisie- video indien, waarvan baie vermaaklik was en ʼn hoë vlak van selfvertroue en entoesiasme getoon het,” sê Lionel Coetzee, hoof van bemarking van AGCO Afrika.

Massey Ferguson-technici van regoor die land het ingeskryf. (Foto: YouTube-skermgreep)

Die program word deur Simon Witbooi, oftewel Hemelbesem, aangebied. Hy is ook die aanbieder van Landbouweekliks op VIA. Twee AGCO Afrika-spesialisbeoordelaars sal hom bystaan. Die spanne sal op hulle tegniese vermoë, MF-produkkennis en spanwerk beoordeel word.

“Met ‘Master Mechanic’ hoop ons om ʼn ervaring te skep wat waarde aan ons kliënte bied. MF was nog altyd gefokus op die skepping van nuwe konsepte om boerdery vir die boer makliker te maak. Die boer is die middelpunt van alles wat ons doen, en ons wil voortgaan om tot hierdie ruimte by te dra op ʼn wyse wat boere die meeste bevoordeel,” sê hy.

Die trekkers wat in die kompetisie gebruik word, is die MF 2640. “Die MF 2600-reeks staan uit in die sin dat dit met meer verrigtingeienskappe en styl as enige ander laeperdekragtrekker in sy klas toegerus is. Dit is derhalwe ʼn veeldoelige trekker wat elke taak doeltreffend en gemaklik kan hanteer.

Drie Massey Ferguson 2640’s is vir die program uitmekaar gehaal. (Foto: Verskaf)

“Die MF 2600-reeks is spesifiek ontwerp om sterk en in staat te wees om moeilike toestande te weerstaan met die bykomende voordeel dat dit moderne gemak en estetika bied. In hierdie gees is die idee van die MF ‘Master Mechanic’-realiteitsuitdaging gebore.”

Richard Heald, direkteur van velddiens vir APA (Asië, Stille Oseaan en Afrika), sê hul werktuigkundiges is bekend vir hul veelsydigheid. “Hulle is opgelei om op ouer, meganiese masjiene, asook aan moderne masjiene met hoë-spesifikasie elektroniese-, begeleidings- en telemetriestelsels te werk. Ons wou met ʼn eiesoortige idee vorendag kom om hierdie kennis en ervaring op ʼn prettige en innemende manier op die proef te stel.”

“Hoewel MF-werktuigkundiges dikwels eerste op die plaas is om ʼn probleem die hoof te bied en dikwels laat bly totdat dit bevredigend opgelos is, kry hulle nie veel lof nie, tog doen hulle dit weer en weer. Ons wil graag die aandag op hierdie mense vestig wat soms te make kry met ʼn kwaai kliënt, baie ure alleen aan ʼn trekker moet werk en moeilike probleme moet oplos. Hulle slaag keer op keer daarin om hierdie masjiene weer aan die gang te kry en die kliënt tevrede te hou,” sê Heald.

Hoewel trekkerbou ‘n redelike tegniese affêre is, is die program so ontwerp dat almal dit sal geniet. (Foto: YouTube-skermgreep)

“Master Mechanic” is so ontwerp dat kykers nie tegnies ingelig hoef te wees nie. Dit is verfilm dat enigiemand dit kan verstaan ​​en geniet terwyl dit ook opvoedkundig sal wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danny ·

Dit is opwindende nuus, dankie vir nog programme wat ons MENSLIK hou..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.