Trekklavier-man se vrou sterf: ‘Ek kon darem afskeid neem’

Lukas en Marinda du Preez. (Foto: Facebook)

“Ek sukkel nog om aanvaarding te kry want ons was nog altyd diep gelowige mense en dit voel of jou gebede nie verhoor is nie.”

Só het ’n verslae en emosionele Lukas du Preez gesê nadat sy vrou, Marinda, Saterdag na ’n maand lange stryd aan Covid-19 dood is.

Lukas, ʼn advokaat wat op George woon, het gereeld oor die afgelope paar weke buite die Bayview-hospitaal op Mosselbaai trekklavier gespeel vir sy vrou met wie hy die afgelope 40 jaar getroud was.

Marinda was sedert middel Julie in die hospitaal nadat sy die koronavirus opgedoen het. “Ek sukkel om te verstaan en te aanvaar. Gelukkig het sy nie meer pyn nie. Sy het baie swaargekry aan die einde. Covid is ’n verskriklike siekte en ek weet nie hoekom dit haar so erg aangevat het nie.”

Die hospitaal het Lukas Vrydag laat weet sy vrou se toestand het verswak. “Ek het haar toe vir so ʼn halfuur gesien. Sy was reeds ver heen, maar kon my waarskynlik hoor hoewel sy geen reaksie meer getoon het nie. Ek is redelik geskok daar weg, maar steeds in geloof.”

Toe Lukas se foon 06:00 Saterdagoggend lui, het hy geweet dit is verby. “Hulle het gesê haar hart klop al stadiger. Ek het aangetrek om in te gaan, maar net voor ek in my motor kon klim toe bel hulle en sê sy is reeds weg.

“Ons kon darem afskeid neem en ek kon vir haar bid,” het Lukas gesê oor Vrydagmiddag se hospitaalbesoek.

‘Dit was ’n manier om te kommunikeer’

Lukas du Preez speel buite die hospitaal trekklavier. (Foto: Charolotte Barnard)

Dit was uit hulpeloosheid, omdat geen besoekers by Covid-19-pasiënte toegelaat word nie, dat Lukas besluit het om buite die hospitaal te gaan trekklavier speel. ’n Video is van Lukas buite die hospitaal gemaak en dit het soos ʼn veldbrand reg oor die wêreld versprei.

Dit was te uitputtend vir Marinda om op die foon te gesels en sy het gesukkel om teksboodskappe te lees. Sy trekklavier sou dus die boodskap moes oordra. “Die speel van die trekklavier was maar ’n manier om te kommunikeer terwyl sy my nog kon hoor. Ek glo sy is in ’n beter plek en haar pyn is weg.” Lukas is vol lof vir die hospitaal se personeel en die empatie wat hulle getoon het.

“Marinda was ʼn geliefde vrou en moeder wat in alle opsigte die beste mens was wat ons ooit geken het,” sê Lukas. Die egpaar het drie kinders en twee kleinkinders.

“Sy het in alle opsigte haar lewe eerstens vir haar gesin en medemens gelewe, was onwrikbaar in haar Christelike geloof en die rots in ons en baie ander mense se lewens.

“Ons het ʼn fantastiese geseënde lewe saam gehad oor die 50 jaar wat ek en sy mekaar geken het. Sy het haar liefde mildelik uitgedeel, gehelp waar sy kon en vergewe waar dit nodig was. Sy was die toonbeeld van ʼn sterk, gelowige en liefdevolle mens, vol deernis vir ander.

“Haar kreatiwiteit met kunswerk en sportiwiteit was legendaries. Maar meer as dit alles was haar liefdevolle karakter en onwrikbare Christelike geloof.”

Dit is met die laaste strofe van Koos du Plessis se lied “Gebed” wat Lukas sy vrou groet. “Wat ek is, is net genade; Wat ek het is net geleen; Eindelik smag ek na U waters van rus; Lei my Heer vanaand daarheen.

“Rus sag my liefling tot ons weer sien by Jesus.”

Posted by Charlotte Barnard on Tuesday, July 20, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

melaney ·

Innige simpatie aan haar familie en vriende. Dit moet erg wees wanneer jy verwag dat jou eggenoot/familielid of vriend beter sal word en dan daardie oproep ontvang. Mag die Here by julle wees in hierdie tyd.

Naomi ·

Sterkte Lukas bid dat Onse Vader jou ook sal dra deur die moeilike tydjie

Blomme ·

So pragtig tog so hartseer storie. Sy weet hoe lief jy haar gehad het Lukas. Sterkte vd familie.

Sê maar net ·

Ek is nou skoon hartseer. So gehoop als gaan reg uitwerk; vir haar gebid ook. So jammer:( Nou bid en julle familie sterkte en die troos van God toe. Sy rus nou in Jesus se arms. Mag dit jou troos. Jy sal haar weer sien.

Sandra ·

Vir diegene wat dink Corona is niks nie, dink maar weer, goed en lank. Innige simpatie met die heen gaan van jou vrou. Ek treur Saam met jou en ook ander wat ook geliefdes so moes afstaan. Weet bet, God is Groot

apollonio ·

Lukas, jou hart is van goud gemaak en jou liefling rus nou in vrede.

Alta Alleman ·

Dis net vir my baie hartseer dat iemand afduime kan drink in hierdie hartseer tyd. Tragies !

Hendrik Marthinus ·

Alta
Stem saam met jou
Die persoon se hart is n klip

Elmarie ·

Alta, die af duime is op alle kommentaar wat verwys na gebed of die Here. Duidelik iemand wat nie glo daaraan nie

Anoniem ·

Innige Meegevoel en simpatie met Lukas , familie en vriende. Daar is nie woorde wat die seer ligter kan maak nie.

Kathleen ·

Sterkte aan jou en jou gesin Lukas . My vraag : wie druk af duime vir so ‘n hartseer verhaal ? Covid-19 is ‘n baie swaar , slegte siekte om te kry en dit is nie iets wat mens met ‘n knippie sout neem nie , glo my maar , ek was daar .

Meisie ·

Kathleen, dit lyk my op al die kommentaar waar daar enige iets gelowig staan kry ‘n af duimpie. Mense kan mos niemand niks gun nie..

Karen ·

Dit is maar net ñ kinderagtige gebaar van iemand wat aandag soek. Ignoreer maar.

Elmarie ·

Ai Lukas, my hart is saam met jou seer. Ek het na Lieb Bester se online gedenkdiens geluister en as daar een ding is wat by my vas gesteek het is dat die Here se genade vir ons almal dieselfde is, Hy het net ander planne met elkeen. Baie sterkte in hierdie ongelooflike moeilike tyd. Hou vas aan jou geloof, die Here sal jou hierdeur ook dra.

Hennie ·

Wat n pragtige storie….. ek wonder wat Dr Vosloo te sê het hieroor.

Chuck ·

My hart bloei vir die man…..en ek verstaan sy gevoelens & vrae…

Karina ·

My innigste simpatie met jou verlies. Ek is seker jou trekklavier speel het haar gemoed gelig en sy het geweet jy is daar naby haar. God wees met jou en jou familie deur die moeilike tyd

Jax ·

Sjoe, dis so treffend! Sielsmooi. Sterkte met die verwerking van jou groot verlies! Ek hou jou in my gedagtes en gebede!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.